Twee van Eskom wat sedert verlede jaar by 'n reuse bedrog-ondersoek betrek word, steeds in senior bestuursposte

2014-11-28
Adv Anton Alberts

Twee werknemers van Eskom wat vandag in die hof verskyn op klagte wat spruit uit die beweerde onregmatige toekenning van kontrakte van R65 miljoen, is steeds in senior bestuursposte by dié maatskappy,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Die mans, Matome Peter Sebola (40) van Pretoria en Jacob Machinjke (51) van Bryanston het in September vanjaar reeds saam met Dawid Malherbe (59) in die Bellville-handelshof verskyn. Hulle was glo betrokke by die toeken van onregmatige kontrakte vir lae-koste elektrisiteitsdienste in Khayelitsha.

Sebola is sover bekend steeds die algemene bestuurder van Eskom in Gauteng, terwyl Machinjike die algemene bestuurder vir Johannesburg is.

Malherbe was ook ʼn senior werknemer by Eskom maar is in 2002 as besturende direkteur van PN Energy Services (PNES) aangestel. PNES is gedeeltelik deur Eskom besit. Volgens sy sosiale media-profiel is hy tans besturende direkteur van die maatskappy Energy Utility Services (EUS).

Die mans het na bewering saamgespan en onregmatige kontrakte van meer as R65 miljoen is aan Malherbe toegeken. Dit het daartoe gelei dat Eskom tussen Februarie 2009 en Maart 2010 byna R17 miljoen aan wins verloor het.

Adv. Alberts sê dit is verstommend dat die mans steeds in hul senior poste met al hul voordele aanbly nadat daar reeds in Junie verlede jaar oor hul beweerde betrokkenheid by die bedrogspul berig is.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403