Twaalf punte waaraan die premier van Gauteng aandag moet gee

2015-02-20
Die Redaksie

Met die oog op die jaarlikse opening van die Gauteng Wetgewer eerskomende Maandag en die lewering van die premier, David Makhura se provinsiale rede, het die VF Plus in Gauteng ʼn 12 punt plan voorgestel waaraan die premier dringend moet aandag gee.

Die VF Plus sê dat die inwoners van Gauteng graag sal wil sien dat die premier dringend aandag moet gee aan die volgende belangrike sake:

  1. Die totale afskaffing van die omstrede e-tol stelsel in Gauteng;
  2. Die afkondiging van ʼn noodtoestand in die provinsie nadat die provinsie in wanorde gedompel is weens onder andere die xenofobiese aanvalle waar geweld uitgebreek het in Soweto, Pretoria, Oos-Rand en regeringsgeboue wat afgebrand is in Randfontein;
  3. Uiters streng optrede teenoor metropolisielede en provinsiale verkeerspolisie wat weens rassistiese dade wit vrouens en kinders teiken, hul dreig en hardhandig behandel;
  4. Die herinstel van wet en orde en die behoorlike opleiding van metropolisie-beamptes;
  5. Die algehele ingryping by lisensiekantore en die uitdryf van korrupte amptenare;
  6. Die algehele ingryping by provinsiale hospitale nadat verskeie sterftes weens nalatigheid voorgekom het by die Steve Biko-, Atteridgeville- en Mamelodi-hospitale;
  7. ʼn Omvattende verduideliking oor die oprigting van infrastruktuur vir die bedrag van R79.5 miljoen wat nie in gebruik geneem is nie;
  8. Die uitwissing van die behuisingsagterstand in Gauteng wat tans op 800 000 te staan kom en die uitbreiding van infrastruktuur wat hierdie behuisingsaanvraag kan hanteer;
  9. Optrede teen die LUR van Onderwys wat besig is om Afrikaanse skole te teiken wat daarop gemik is om moedertaalonderrig, volgens die Grondwet, te gee en wat die skole afmaak as sogenaamde ‘apartheid-skole’;
  10. Samewerking met die privaatsektor sodat werkskepping kan plaasvind en armoede uitgeroei kan word;
  11. Die algehele opskerp van dienslewering in die provinsie; en
  12. Strenger optrede teenoor burgemeesters wat slegs 25% van hul jaarlikse begrotings bestee soos in die geval van Mogale City, Randfontein en Westonaria wat onderskeidelik slegs 28% en 23% van hul jaarlikse toelae spandeer het.

Die VF Plus se LPW in die Gauteng Wetgewer, Philip van Staden, sê dat dit uiters noodsaaklik is dat die premier dringende aandag aan die twaalf punte moet gee en dat die hy nie weer, soos in 2014, sinnelose aankondigings maak soos die instelling van gratis Wi-fi-sisteme, ens in die provinsie nie.

“Die VF Plus spreek die hoop uit dat die premier vanjaar gaan aandag gee aan ons 12 punt plan en dat die premier deeglik en hard gaan ingryp in die wanorde in Gauteng en die inwoners van Gauteng die versekering gee dat hul belastinggeld reg spandeer en aangewend word en dat hul veiligheid in hierdie provinsie verseker word.”

Van Staden het gesê dat die VF Plus die premier eerskomende Maandag sal dophou.

 

Philip van Staden LPW Gauteng

Tel: 084 015 4722