Tshwane-metroraad se ouditverslag bekommer

2016-02-02
Die Redaksie

Die Tshwane-metroraad is in meer moeilikheid as wat die verbruiker besef. Selfs die Ouditeur-Generaal vra kommerwekkende vrae oor die finansiële bestuur van die stad, sê Awie Erasmus, VF Plus-stadsraadslid in die Tshwane-metro.

“Hoewel die metro verlede week ʼn ongekwalifiseerde oudit ontvang het, is daar beslis punte van kommer,” sê rdl. Erasmus.

“ʼn Ongekwalifiseerde oudit moet nie met ʼn “skoon oudit” verwar word nie. ʼn “Skoon-oudit” is een waar geen punte van kommer genoem word nie,” het hy verduidelik.

Die Ouditeur-Generaal het ernstige kwelpunte soos finansiële verliese en gebrekkige finansiële leierskap in sy verslag gemeld. Kwelpunte is as volg:

  1. Groot elektrisiteitverliese van R937,512,190. Die syfer het met 18% in ooreenstemming met verlede jaar verhoog;
  2. PEU-slimmeter-uitgawes van R808,333,532.00. (Die saak word tans deur die Openbare-Beskermer ondersoek);
  3. Onvoldoende oudit-bewyse is gevind vir sommige van die kontrakte wat nie volgens relevante wetgewing plaasgevind het nie. Sommige kontrakte het nie op ʼn kompeterende basis plaasgevind nie;
  4. Onvoldoende stappe is geneem om wanaanwending van fondse te verhoed;
  5. Senior bestuur het nie hulle verantwoordelikheid nagekom deur genoegsame oorsig uit te oefen t.o.v. die finansiële aangeleenthede van die metro nie.

Die VF Plus het direkte vrae aan die Ouditeur-Generaal (OG) gestel met ʼn sterk klem op die finansiële volhoubaarheid van die Tshwane-metroraad. Die vrae is as volg:

  1. Wat doen die burgemeesterskomitee om verdere verliese te bekamp, aangesien die verliese van 2014 met 18% verhoog het?
  2. Wat doen die OG om gebrekkige finansiële leierskap en wanaanwending van belastingbetalers fondse aan te spreek?
  3. Watter bewyse is daar dat die Tshwane-metro se finansiële state op ʼn lopende saak grondslag opgestel is, m.a.w. die metro se finansiële volhoubaarheid vir die afsienbare toekoms? Die VF Plus bevraagteken die stabiliteit van die Tshwane-metro op grond van onlangse kontantvloei state asook ander faktore.

Volgens rdl. Erasmus, VF Plus se woordvoerder oor finansies in die metro, is die finansiële volhoubaarheid van die stad vir elke inwoner van kardinale belang.

Rdl. Erasmus maak die punt dat enige tekorte en verliese a.g.v. swak bestuur, net eenvoudig na die belastingbetaler afgewentel word wat reeds vuisvoos is te midde van ʼn dreigende resessie.

Die vrae wat aan die OG gestel is sal in Februarie beantwoord word en die VF Plus sal seker maak dat genoegsame terugvoer ontvang word.

 

Awie Erasmus

Raadslid: Tshwane Metro Raad (Finansies)

Tel: 072 815 4053

awieerasmus@gmail.com