Trek staatsdiens se belt stywer in met begroting, sê VF Plus

2015-02-24
Dr Pieter Mulder

Suid-Afrika se buitensporig groot staatsdiens plaas uitermatige groot druk op die fiskus en dit is die een plek waaraan gewis aandag gegee moet word in hierdie jaar se begroting, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê ʼn moratorium moet geplaas word op nuwe aanstellings, en veral op aanstellings vanuit die private sektor wat teen buitensporige salarisse na die staatsdiens gelok word.

Hy sê groot salarisverhogings en sogenaamde merietebonusse aan senior amptenare kan ook nie meer bekostig word nie.

“Eise vir ʼn algemene salarisverhoging van sowat 15% vir die staatsdiens is nie haalbaar nie en sal Suid-Afrika in sy huidige swak finansiële posisie ekonomies lamlê. ʼn Sinvolle verhoging sal gelykstaande aan inflasie plus sowat 1% wees.

“Sosiale toelaes is nog ʼn onversadigbare spons wat ʼn groot las op die staatskas plaas en ook hier kan nie toegelaat word dat dit onbepaald bly groei nie. Kundiges bereken reeds dat toelaes en die staat se salarisrekening die land se totale begroting kan opneem teen die jaar 2026 indien daar nie nou halt geroep word nie.

“Indien hieraan aandag gegee word, sal dit nie nodig wees om persoonlike belasting te verhoog nie,” sê dr. Mulder.

  • Aan die hand van ʼn parlementêre vraag het die VF Plus syfers bekom wat daarop dui dat die land se staatsdiens reeds in 2013 groter was as die van Amerika op federale vlak. Suid-Afrika het toe reeds 3,072 miljoen staatsdienswerkers gehad wat 22.6% van die land se totale werksmag uitgemaak het.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670