Transnet-pensioenarisse stel hul lewens in gevaar om aan die lewe te bly

2015-09-22
Die Redaksie

Dit is ‘n skande dat Transnet-pensioenarisse hul lewens op hul oudag in gevaar moet stel om aan die lewe te bly, sê Amanda de Lange, VF Plus-stadsraadslid in Mogale City.

Een so ‘n verhaal is dié van Eddie Olivier en sy vrou Margret van West Village buite Krugersdorp. Hy het 30 jaar vir die Spoorweg gewerk en moes noodgedwonge na ‘n groot werksongeluk vroeër aftree.

“Hy ontvang ‘n karige Transnet-pensioen van R1 600 per maand. Dit is nie eers ‘n druppel in die emmer om hul huurhuis, waarin hy en sy gestremde vrou woon, elke maand te betaal nie. Om hul geld aan te vul, verkoop hulle koeldrank aan dorstige motoriste op die hoek van Jim Fouche- en Hendrik Potgieterrylaan.

“Margret het eers as ‘n motorwag by die Key West-besigheidsentrum in Krugersdorp gewerk, maar is deur ‘n motor omgery. Na vele operasies en lang tye in ‘n staatshospitaal kan sy beswaarlik loop. Sy het die VF Plus vir ‘n rolstoel genader en met die hulp van Wheels on the Run, is ‘n rolstoel by die Olivier-egpaar afgelaai.

“Hulle moet noodgedwonge tussen die bewegende motors staan om koeldrank te verkoop. Behalwe die koeldrank-verkope maak hulle ook leer items en spookasem,” sê rdl. de Lange.

Die Transnet-pensionarisse se regspan is tans besig om aansoek by die adjunk-regter president te doen om ‘n regter as saakbestuurder aan te stel om so die voor-hofsaak prosedure te bespoedig. Tans is 60 000 pensioenarisse by die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds klasaksie-hofsaak betrokke.

Amanda de Lange
071 6049 498