Tina Joemat-Pettersson vol beloftes en grandiose planne vir energie terwyl agterstallige projekte nie eens afgehandel word nie

2015-05-19
Adv Anton Alberts

Aan die een kant skets die energie-minister, Tina Joemat-Pettersson, met beloftes en groot planne ʼn wonderlike prentjie oor die land se toekomstige energie-sekerheid.

Aan die ander kant is die realiteit dat sy nie eens agterstallige projekte voltooi nie en haar kitsoplossing vir die land se energieprobleem is blykbaar om Eskom te steun in ʼn tariefverhoging, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Joemat-Pettersson het vandag met haar departement se begrotingsposdebat onder meer gesê sy doen ʼn ‘beroep’ op die nasionale energiereguleerder (Nersa) om die proses van die tariefverhoging wat Eskom aangevra het, af te handel sodat Eskom sy geldsake in orde kan kry.

Adv. Alberts sê hierdie versoek van die minister is totaal buite orde, aangesien die minister nou die verantwoordelikheid op die verbruiker self wil oorskuif om die land uit sy energiekrisis te red.

“Die VF Plus het gister juis voor Eskom se hoofkantoor protes aangeteken teen die beoogde verhogings aangesien die publiek nie elke keer verantwoordelik gehou kan word vir die ANC-regering se mislukkings nie. Die verhoging is totaal buite orde.

“Die minister het vandag vele ander grandiose planne genoem om die land uit sy energiekrisis te red, soos die kernkragprogram van triljoene rand waarvoor die land nie geld het nie. Intussen is sy nie eens bevoeg genoeg om eenvoudige planne en projekte uit te voer nie.

“Vroeër vanjaar was sy sonder enige verskoning afwesig van ʼn belangrike parlementêre portefeuljekomitee waar sy ʼn voorlegging oor die regering se vyfpunt-energieplan aan parlementslede moes doen. Haar adjunkminister, Thembi Majola, was ook nie teenwoordig nie.

“Einde Maart het sy ʼn tweede keer die spertyd gemis (op 31 Maart 2015) om te begin met die program om onafhanklike kragvervaardigers by die kragverskaffingsnetwerk te betrek. Volgens haar sal dit nou later vanjaar gedoen word.

“Dit is onsin. Hierdie program om bykomende krag by die netwerk te voeg, moes lank reeds afgehandel gewees het. Die staat se vyfpuntplan om onafhanklike verskaffers van hernieubare en steenkool-opgewekte krag te betrek, is ook van kritieke belang. Ook hier sloer die uitvoering.

“In stede daarvan dat die minister die werk doen wat dringend gedoen moet word, sit sy en tyd mors met planne waarvan baie onuitvoerbaar is. Intussen laat die kragkrisis die land se ligte al hoe dowwer skyn,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403