Terughouding van motorlisensies weens agterstallige e-tolskuld is onwettig en ongrondwetlik

2015-05-21
Adv Anton Alberts

Dwang-maatreëls rondom die betaling van e-tolskuld, soos die weerhouding van motorlisensies van nie-betalers, is onwettig en ongrondwetlik en is niks anders nie as administratiewe afpersing,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Adv. Alberts sê regsadvies wat hy gekry het, dui daarop dat die weiering van lisensies teenstrydig sal wees met die administratiefreg in Suid-Afrika.

Hy sê die beginsel van ʼn eensydige straf soos om ʼn lisensie te weerhou sonder om die persoon wat daardeur benadeel word die geleentheid te gee om te reageer en sy kant van die saak te stel, druis lynreg in teen die administratiefreg .

“Dit kom ook neer op die verbreking van die Wet op Verbruikersregbeskerming indien iets soos ʼn lisensie in hierdie geval, weerhou sou word weens die nie-betaling van ʼn onverwante skuld.

“Die gevolg van die handeling sal motoriste in ʼn posisie plaas waar hulle gedwing sal word om die wet te breek aangesien hulle dan geen keuse sal hê as om met ongelisensieerde voertuie te ry nie.

“Dit plaas die gebruiker terselfdertyd in ʼn benarde posisie aangesien daar nie versekeringsdekking op ʼn ongelisensieerde motor sal wees nie.

“Al wat die ANC-regering met hierdie ondeurdagte optrede gaan vermag, is om ʼn veel groter probleem bykomend tot die terugbetaling van die reuse e-tolskuld te skep,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403