Te veel kokke en resepte bederf SA se ekonomiese bredie

2015-05-12
Adv Anton Alberts

Te veel departemente en te veel planne vir ʼn gemene saak skep ʼn warboel wat Suid-Afrika se ekonomie groot skade berokken, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts het vandag met die begrotingsposdebat vir die departement van ekonomiese ontwikkeling gesê dit is moeilik om die land se ekonomie te analiseer aangesien dit opgedeel is in verskeie portefeuljes, naamlik ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid, finansies en die nuwe departement van kleinsake-ontwikkeling.

Hy sê interdepartementele samewerking is swak, en dit lei tot onnodige duplisering en vertragings weens botsende beleid-standpunte terwyl persoonlike koninkrykies en ego’s die saak verder bemoeilik.

Hy sê ook dit is ironies dat die ekonomiese bestuur van die land aktief gedesentraliseer word tussen departemente, maar dat die ANC/SAKP-ekonomiese beleid een van sentralisering is. Daarby spreek die regering se verskillende ekonomiese planne nie tot mekaar nie en word elkeen om die beurt voorgehou as die meesterplan, afhangende van watter aspek beklemtoon word.

So word die Nasionale Ontwikkelingsplan as die meesterplan beskou, ander kere weer die Nuwe Groeipad, of die Nywerheidsbeleid-Aksieplan. Daar word selfs verwys na die ANC se Vryheidsmanifes wat geen regstatus het nie.

“Hierdie onsamehangendheid vind plaas in ʼn omgewing van ʼn groeiende fiskale tekort, ʼn onstabiele arbeidsomgewing, kragtekorte, ʼn tekort op die land se lopende rekening en ʼn dreigende gemors-kredietstatus.

“Die doel van hierdie begrotingstem is om ekonomiese beleid en beplanning te formuleer tot voordeel van almal in Suid-Afrika. ʼn Mens sou reken dat hierdie departement die ekonomiese leiding sou neem, maar dit is nie die geval nie.

“Gegewe dié konteks, is dit allerbelangrik dat Suid-Afrika se ekonomie op die pad van groei en ontwikkeling geplaas word deur ʼn beproefde en werkbare beleidsrigting waarop al die rolspelers eenvormig fokus,” sê adv. Alberts.

Die VF Plus sou in hierdie verband graag wou sien dat die volgende beleidsbeginsels in plek gestel word:

  • Die voorvereiste vir enige regeringsaksie is om vas te stel of dit inderdaad grondwetlik is. Daarom moet die Grondwet as rigsnoer gebruik word en nie enige ander dokument soos die ANC se Vryheidsmanifes nie;
  • Die land se huidige ekonomiese beleid werk duidelik nie. Werkloosheid is by die vlak van 2009. Suid-Afrika moet daarom lesse neem uit die ekonomiese beleid van lande soos Brittanje, Amerika en Duitsland, en nie van mislukkings soos Kuba en Zimbabwe nie;
  • Die regering moet beleggers na Suid-Afrika lok en nie wegstoot met beperkende beleid oor grondeienaarskap, onteienings en eienaarskap in sekere sektore soos sekuriteitsmaatskappye nie. Dis asof die regering dink handel met BRICS gaan daarvoor opmaak as handel met die EU of Amerika opgeskort word.

Adv. Alberts sê daar sal toenemend spasie vir entrepreneurskap geskep moet word om waarde en werk op die ekonomiese landskap te plaas.

“Dit beteken dat politici vernuwend hieroor sal moet besin en as’t ware self politieke entrepreneurs sal moet word wat daarvoor kan sorg dat ʼn omgewing vir groei geskep word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403