Syfers oor Kaapstad-stadion skok

2015-08-21
Rdl André Fourie

Meer as ʼn miljard rand. Dit is volgens die VF Plus se berekeninge wat Kaapstad-stadion dié stad se belastingbetalers die afgelope vyf jaar gekos het terwyl die verantwoordelike politieke leiers eenvoudig die feite negeer het, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie sê komende van ʼn party wat daarop aandring dat president Jacob Zuma verantwoording moet doen oor Nkandla se sowat R250 miljoen, moet hierdie politieke ampsdraers se koppe ook rol soos dié van die verantwoordelike uitvoerende direkteur wat reeds self bedank het.

Direkte geskrewe vrae van mnr. Fourie is dié week nie volledig beantwoord nie, en waar die VF Plus byvoorbeeld syfers vir die laaste vyf jaar gevra het, is net een jaar se syfers gegee. Die onderneming is gegee dat die ander jare se statistiek ook gegee sal word.

Die VF Plus het intussen die eenvoudige berekening gedoen deur die een jaar (2014/2015) se statistiek met vyf te vermenigvuldig, en het by die benaderde skokkende bedrag van byna R1,073 miljard vermorste geld uitgekom. Die verlies moet gedra moet word deur Kaapstad se belastingbetalers.

Wat verder skok, is die feit dat die stadion se ‘konsultante’-rekening vir die enkele boekjaar byna R9 miljoen beloop. Of dan moontlik R45 miljoen sedert 2010. Mnr. Fourie sê die VF Plus sal graag wil verneem presies waarvoor die konsultante aangewend is.

“Hierdie verregaande konsultantefooi is onaanvaarbaar en verdag. Kaapstad se amptenare – net soos alle munisipale amptenare, is verreweg die hoogs betaalde in Suid-Afrika en verdien 30% tot 40% meer as hul eweknieë in die private sektor. Waarom word hul kundigheid nie gebruik nie?,” vra mnr. Fourie.

Hier volg ʼn kort uiteensetting van die antwoorde wat die VF Plus op mnr. Fourie se vrae ontvang het:

  • Die totale kapitaalkoste van die stadion het R4 289 miljard beloop waarvan die stad R960 463 miljoen bygedra het.
  • Die bedryf- en instandhoudingskoste vir die 2014/2015-boekjaar beloop R203 179 190.
  • Koste vir konsultante in die jaar: R8 852 260.
  • Twee toernooie is aangebied in 2014/15. (a) Bafana vs Nigerië – Verlies R348 062. (b) Bafana vs Angola – Verlies R 2 262 025.
  • ʼn Reis deur raadslid Grant Pacoe, burgemeesterskomiteelid: Toerisme, geleenthede en bemarking, na Engelse sokkerklubs: R120 519. Hy het intussen uit die DA bedank.

Mnr. Fourie sê die betrokke politieke ampsdraers sal verantwoording moet doen. “Die stadion is ʼn bodemlose put wat moontlik jare nog die belastingbetalers se geld sal insuig indien daar nie nou aan die VF Plus, wat sedert 2008 reeds sy stem hieroor dik maak, gehoor gegee word nie.

“Waarom is daar bloot voortgegaan met dié vermorsing? Onlangs nog was daar weer die Cape Town Cup-sokkerdebakel waar selfs ʼn nuwe laagtepunt bereik is met die vermorsing van ‘n verdere beraamde R28 tot R34 miljoen.

“Ook hier het dit aan die lig gekom dat die burgemeester en betrokke burgemeesterskomiteelid bloot aangeneem het die stadion gaan met elke wedstryd volgepak wees met 50 000 mense. Toe daag by die eerste wedstryd skaars ʼn duisend op.

By die tweede wedstryd het 16 000 mense opgedaag en niemand wil sê hoeveel hiervan is met busse aangery om vermoedelik gratis na die wedstryd te kyk net om getalle op te jaag nie. Is dit die goeie werk van die R9 miljoen-konsultante?

“Die tyd het aangebreek dat die politieke leiers in die Wes-Kaap - die premier Helen Zille, burgemeester De Lille, die burgemeesterskomiteelid Garreth Bloor en die hele burgemeesterskomitee verantwoording doen, en nie soos president Zuma agter amptenare probeer skuil nie. Hulle weet nog al die tyd van die vermorsing,” sê mnr. Fourie.

 

Kontaknommers: 083 441 9262 / 083 419 5403