Swak kommunikasie in die Johannesburg-metro

2015-02-24
Die Redaksie

Swak kommunikasie tussen Johannesburg-metro se subkontrakteurs en verbruikers, veroorsaak nie net ʼn dienslewering kopseer nie, maar kos verbruikers geld, sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid in die Johannesburgse metroraad.

Deesdae is dit die norm dat meterlesings, die ontkoppeling en herkoppeling van elektrisiteit- en watermeters deur subkontrakteurs hanteer word.

Dié werksmetode skep groot kommunikasie probleme. Inligting word nie behoorlik herlei nie wat veroorsaak dat water en elektrisiteit links en regs afgesny word, al het die betrokke verbruiker ʼn dispuut oor ʼn foutiewe rekening by die metro aangemeld.

Verder word verkeerde lesings na die stad se rekeningafdeling gestuur of die lesing en die betrokke meter pas nie bymekaar nie. Die foute veroorsaak dat verbruikers duisende rande moet inbetaal, anders word hul elektrisiteit- en watertoevoer onmiddellik gestop.

“Die VF Plus stel voor dat die metro weer goed opgeleide personeel aanstel om dié basiese funksies te verrig”, sê raadslid de Lange.

Die aanstel van konsultante is lynreg teen die waarskuwing verlede jaar deur die voormalige minister van Finansies, Pravin Gordhan, wat gevra het dat mense moet ophou om ander te huur om hul werk te doen.

 

Franco de Lange

082 358 3882