Suid-Afrika raak toenemend ‘n polisiestaat

2015-02-16
Adv Anton Alberts

Al hoe meer voorvalle waarin die polisie betrokke is – soos dié waar ʼn epilepsielyer glo weens dronkenskap aangekla is - laat vrese ontstaan dat Suid-Afrika toenemend na ʼn polisiestaat neig waar swak opgeleide polisielede soos boelies optree teenoor die publiek wat hulle veronderstel is om te beskerm,” sê adv. Anton Alberts, parlementslid en Gautengse leier van die VF Plus.

In die jongste voorval het ʼn vrou van Randburg wat glo ʼn epilepsie-aanval gekry het, ʼn siviele geding teen die polisie aanhangig gemaak nadat sy weens dronkenskap in hegtenis geneem is. Sy is ook aangerand en polisielede het die spot met haar gedryf.

Me. Lana Sander (26), sê haar verduidelikings het op dooie ore geval en sy moes vandag in die Randsburgse landdroshof verskyn op ʼn aanklag van dronkbestuur.

Die saak teen haar is egter teruggetrek nadat sy direk na haar vrylating self bloedmonsters laat neem het om te bewys sy het nie gedrink nie. Benewens die siviele stappe, beplan sy ook om die polisie strafregtelik te laat vervolg.

Adv. Alberts sê dit is optrede soos dié wat veroorsaak dat die publiek die polisie nie vertrou nie en byvoorbeeld nie wil aftrek wanneer ʼn persoon in polisie-uniform dit versoek nie.

“Die VF Plus besef daar is steeds ‘n handjievol goeie SAPD-lede wat hul bes probeer teen die verval wat om hulle plaasvind.

“Die aanranding van ‘n vrou met ‘n epileptiese toestand en die spottery terwyl sy ‘n aanval kry, is laakbaar vergelykbaar met die optrede van Nazi-polisiemanne in Duistland wat mense met gebreke geboelie en uiteindelik doodgemaak het.

“Hierdie geval moet ondersoek word deur die polisie se provinsiale kommissaris en die lede betrokke moet onmiddellik geskors word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403