Suid-Afrika kan nie ‘beurtwater’ ook bekostig nie

2015-05-21
Adv Anton Alberts

Van al die probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar, sal ʼn waterkrisis die vernietigendste wees. En terwyl alle tekens daarop dui dat die land ook hier op ʼn ramp afstuur, weier die ANC weereens – net soos met Eskom – om op die waarskuwings ag te slaan,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor water en sanitasie.

Adv. Alberts sê ʼn waterkrisis sal Suid-Afrika se ekonomie soos ʼn tsunami tref en sal die huidige kragkrisis na ʼn piekniek laat lyk.

“Sonder skoon water kan niemand leef nie, en daarbenewens gebruik ʼn groot deel van die land se ekonomiese rolspelers gesamentlik tot 10% van ons water. Net soos met die energieprobleem is dit duidelik; vou die watertoevoer vou die ekonomie en vou Suid-Afrika.

“Die wyse waarop die ANC omgaan met sy grondwetlike watervoorsieningsplig is kommerwekkend. Alreeds in 2008 het dr. Anthony Turton van die WNNR, die regering gewaarsku dat ʼn krisis aan die broei is en hy is ontslaan bloot omdat hy gesien het watter toekoms ons in die gesig staar.

“Die VF Plus het sy verslag in 2010 weer by die parlement ingedien vir die betrokke minister se aandag, maar daar het natuurlik niks van gekom nie. Die verslag is steeds relevant en belangrik.

“Een van die belangrikste bevindings van die verslag is dat die druk op die land se waterbronne te groot raak en dat die infrastruktuur nie kan byhou nie. Dit sien ons reeds met waterpompe wat regoor die land onklaar raak, rou riool wat in waterstelsels beland en mense wat selfs sterf weens besoedelde water.

“Voeg daarby hierdie departement se gebrek aan oorsig ten aansien van waterlisensies aan plaaslike owerhede en jy het ʼn resep vir chaos. In die Klerksdorp/Matlosana-munisipaliteit byvoorbeeld, word die Vaalrivier aanhoudend besoedel deur die plaaslike owerheid weens die gebrek aan oorsig.

“Die verhaal klink dieselfde as wat met Eskom gebeur het. ʼn Gebrek aan onderhoud wat direk herlei kan word na regstellende aksie en kaderontplooiing. Alles dui op ʼn ontvouende krisis wat die land nie kan bekostig nie. Net die ANC sien dit nie raak nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403