Strafregtelike klagte moet nou volg op OB se Nkandla-verslag

2014-03-19
Dr Pieter Groenewald

Dit is duidelik uit die verslag van die Openbare Beskermer (OB) dat belastingbetalersgeld wanaangewend en -bestee is waardeur pres. Jacob Zuma persoonlik verryk is, en strafregtelike klagte moet nou uit die verslag voortspruit, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre leier.

Volgens dr. Groenewald moet pres. Zuma die verbeterings waardeur hy verryk is, en wat deur die OB beskryf is as buitensporig, onwettig en ongrondwetlik, onverwyld terugbetaal aan die belastingbetaler.

Hy sê daar moet ook strafregtelik opgetree word teen alle tenderaars en amptenare wat nie die korrekte tenderprosedure gevolg het nie.

“In die lig van die OB se bevinding dat Zuma, alhoewel bona fide, die parlement mislei het, moet hy ook in die parlement kom verduidelik hoe dit kan wees dat hy nie persoonlik bewus was van al die verbeterings nie, of hoe sy familie nie daardeur bevoordeel is nie.

“Hier is weer eens ‘n bewys dat die persoonlike vriende van Zuma, in die geval die argitek Minenhle Makhanya, Zuma se naam misbruik om transaksies te bekom en om amptenare te intimideer.

“Dit is eintlik soortgelyk aan die Waterkloof-skandaal waar persoonlike vriende Zuma se naam misbruik het vir eie gewin.

“Dit moet ook oorweeg word dat Zuma in ‘n staat van beskuldiging geplaas word waar hy saam met die minister van polisie, Nathi Mthethwa, aan die parlement verantwoording moet doen oor hoe dit kan gebeur dat ‘n aanvanklike R27 miljoen vir beveiliging eindelik R247 miljoen kan beloop.

“Daar sal ook indringend gekyk moet word na die instelling van die Openbare Beskermer wat in hierdie stadium bloot ondersoeke kan doen en ‘n verslag aan die parlement te kan lewer, maar geen tande het om op te tree teen oortreders nie.

“Die VF Plus sê die OB moet in staat wees om daadwerklik te kan optree in belang van die belastingbetalers van Suid-Afrika,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403