Stop magsvergrype deur metropolisie

2015-02-17
Die Redaksie

Die VF Plus is geskok oor die gedrag van metropolisie beamptes wat vroue en kinders aanrand. So sê rdl. Awie Erasmus, VF Plus raadslid in die Tshwane Metroraad, nadat Geneel Maritz (20) verlede week deur ʼn beampte in Van der Hofweg, Pretoria van die pad getrek is. Sy is glo deur die beampte aangerand.

“Hierdie is net nog ʼn geval van die vele wat in vanjaar reeds in die media verskyn het. Vroeër dié jaar is ʼn driejarige kind deur die polisie gedreig. Die VF Plus is uiters geskok met die wyse waarop die metropolisie inwoners van Pretoria behandel. Geen dissipline word toegepas nie, veral as dit kom by weerlose vroue en kinders. Die polisie moet eerder ʼn toevlug vir mense in nood wees maar in stede om mense te beskerm, het hulle ʼn teiken van vrees vir wetsgehoorsame burgers geword.”

Raadslid Erasmus gaan vandag tydens ʼn sitting van die Gemeenskapsveiligheidforum, antwoorde eis. Die forum is ʼn platform waar sulke onbehoorlike gedrag deur amptenare aangehoor word. “Ons gaan vandag gedetailleerde verslae oor die insident aanvra. Ons wil ook hoor wat die metropolisie gaan doen om sulke voorvalle in die toekoms te voorkom.”

Die VF Plus gaan hierdie saak egter verder neem met die daarstelling van ʼn webtuiste waar mense soortgelyke voorvalle kan aanmeld. Rdl. Erasmus is die party se woordvoeder oor veiligheid in Tshwane asook lid van die oorsigkomitee vir Gemeenskapsveiligheid.

 

Awie Erasmus