Staking by Poskantoor moontlik more (Vrydag 6 Maart) hervat, sê CWU

2015-03-05
Adv Anton Alberts

Soos die VF Plus verlede maand reeds gewaarsku het, begin poskantoorwerkers more (6 Maart) weer staak indien die SA Poskantoor nie teen twaalfuur môremiddag ʼn hofbevel bekom het om die staking te stop nie.

Nadat die VF Plus vandag die Communication Workers Union (CWU) gekonfronteer het oor ʼn dokument waarin gesê word dat die poskantoorstaking hervat gaan word, het vakbond se adj. sekr. genl., Thabo Mogalane, gesê die staking sou vandag reeds om 13:00 begin.

Volgens Mogalane het die Poskantoor dadelik aansoek gedoen om ʼn hofbevel om die staking te keer, en CWU het besluit om die staking tot Vrydag 12:00 uit te stel.

Adv. Alberts, die VF Plus se woordvoerder oor kommunikasie, se die VF Plus het verlede maand reeds gewaarsku dat ʼn staking op hande is nadat dokumente van die vakbond bekom is waarin duidelik uitgespel is dat hernieude arbeidsoptrede beplan word.

Die aanstelling van Poskantoor se interim-hoof, Simo Lushaba, is toe genoem as die hoofrede vir die ontevredenheid. Lushaba is einde verlede jaar tydelik aangestel nadat die minister van kommunikasie en poswese, Siyabonga Cwele, die Poskantoor se raad ontbind het.

ʼn Reeks aantygings word teen Lushaba gemaak en hy word daarvan beskuldig dat hy nie sterk genoeg teen wanadministrasie en bedrog optree nie. CWU beskuldig hom ook daarvan dat hy aan sommige vakbonde voorkeurbehandeling gee en sodoende wrywing tussen vakbonde en personeel veroorsaak.

CWU dreig in die dokumente dat hul dreigemente ‘ernstig opgeneem moet word’ aangesien die situasie ʼn ‘tydbom’ is.

Volgens adv. Alberts het die VF Plus die minister gemaan om die dreigemente ernstig op te neem en om sonder verwyl in te gryp om die situasie ‘in die belang van Suid-Afrika te ontlont’. “Dit lyk ongelukkig nie of die probleem opgelos kon word nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403