Staat dobbel met staatsdiensamptenare se pensioenfonds by Lonmin

2015-11-23
Adv Anton Alberts

Dit is onaanvaarbaar dat geld van staatsdiensamptenare se pensioenfonds nou gebruik word om die wankelende Lonmin van ondergang te red, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Luidens ʼn berig in Netwerk24 vandag gaan die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat die staatsdiens se pensioenfonds bestuur, ʼn verdere 25% van Lonmin bekom deur dié regte uitgifte van die sukkelende platinum-produsent. Die beleggingsbedrag is R1,9 miljard.

Lonmin se aandeelprys het hierdie jaar met 80% gedaal vanaf byna R35 tot skaars R3 vroeër vandeesmaand. Wat markwaarde aanbetref was dit ʼn jaar gelede R29 miljard. Tans staan dit op R3,5 miljard.

Adv. Alberts sê die VF Plus gaan die saak opneem met die minister van finansies en die beregter van pensioenfondse om te verhinder dat die amptenare hul geld verloor. Hy sê dit is uiters riskant om geld te belê in ʼn maatskappy wat op die rand van bankrotskap staan.

Wat hier gebeur is hoegenaamd nie ʼn berekende sake-besluit nie. Daar word op ʼn onverantwoordelike en gevaarlike wyse met byna R2 miljard van die amptenare se pensioengeld gedobbel bloot om politieke redes.

“Dit is bekend hoe Transnet se fondse gestroop is. Die klasaksie-eis van sowat R80 miljard daaroor behoort eersdaags voor die hof te dien.

“Hierdie belegging by Lonmin stuur duidelik op ʼn soortgelyke fiasko af, en dit moet gekeer word voordat die geld vermors word bloot om politieke steun vir die ANC te werf,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403