Sommige bevorderings in SA Nasionale Weermag nie op meriete

2014-01-27
Dr Pieter Groenewald

“Die jongste senior aanstellings in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag plaas opnuut die kollig op die probleme binne die land se gewapende magte en beklemtoon hoe kundigheid ondergeskik gestel word aan politiek korrekte aanstellings,” sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

Volgens dr. Groenewald is dit bekend dat die weermag gestriem word deur begrotingstekorte, ‘n gebrek aan ervaring, kundigheid en dissipline wat grootliks bydra tot van die probleme in die weermag.

“Die aanstelling van vise-adm. Sameul Hlongwane as nuwe hoof van die vloot is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hlongwane is ‘n teen-inligtingsoffisier met geen gevegs- of operasionele ondervinding nie en hy het geen kundigheid betreffende die vloot nie.

“Skout-adm. Hanno Teutenberg wat vir die pos oor die hoof gesien is en aangestel is as adjunkhoof, is daarenteen ‘n deurwinterde offisier met dekades se ervaring in die vloot en selfs as duikboot-offisier.

“In ander gevalle is persone soos genl.maj. Nontobeko Mpaxa, wat verskeie oortredings soos dronkbestuur en onregmatige optredes teen ondergeskiktes begaan het, bevorder.

“Sulke aanstellings is teenproduktief vir die moraal en dissipline in die weermag, aangesien dit vir alle lede duidelik is dat harde werk, kundigheid en dissipline nie noodwendig beloon word nie,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403