Siek polisielede kos staat R1,148 miljard

2014-12-03
Dr Pieter Groenewald

Polisielede wat verlede jaar afwesig was by die werk weens siekte, het die belastingbetaler R1,148 miljard gekos. Dit is ʼn toename van 42% teenoor die vorige jaar (2012). ʼn Totaal van 1,8 miljoen (1 789 223) werksdae het hierdeur verlore gegaan. Die totale hoeveelheid werknemers wat siekverlof in die jaar geneem het, is 159 082. Dit is volgens die jaarverslag van die Polisie in die tydperk vanaf 1 Januarie 2013 tot 31 Desember 2013. Siekverlof alleen het R1,004 miljard en permanente en tydelike onbevoegdheidsverlof het R144,553 miljoen beloop. Die kategorie waar afwesigheid weens siekte die meeste voorgekom het, was by geskoolde lede (vlakke 3-5) en die tweede meeste by hoogsgeskoolde lede (vlakke 6-8). Geskoolde lede was 791 099 dae en hoogsgeskoolde lede 621 430 dae afwesig.

“Wat werklik kommerwekkend is, is dat ongeveer 80% van die totale aantal polisielede siekverlof geneem het (159 082 uit 200 000). Dit is duidelik dat die Polisie ’n gesondheidsprobleem het.

“Die 42% toename van siek lede en dat hoogsgeskoolde en geskoolde lede die meeste siek is wek ook kommer. Hierdie kategorie van lede vorm die kern van die Polisiediens wat misdaad moet ondersoek. Die syfers toon dat daar ʼn ernstige probleem is wat aandui dat polisielede in hierdie kategorieë of oorwerk is of onder te veel druk en spanning geplaas word. Deel van die druk en spanning is ook dat sommige lede nie behoorlik opgelei is vir die taak wat hulle moet verrig nie,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Polisie van die Vryheidsfront Plus.

“Hierdie probleem neem jaarliks toe en volgens jaarverslae het ongeveer 50% van die totale lede in 2010 siekverlof geneem en nou is dit 80%. Daar sal ernstig ondersoek gedoen moet word en genl. Phiyega moet sê wat sy gaan doen om die probleem op te los,” het Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403