Sasco moet aanhitsing by TUT staak

2014-01-30
Die Redaksie

Klasse by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Pretoria moes Woensdag opgeskort word nadat die ANC-geaffilieerde student-organisasie Sasco, betoog het teen die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS).

Die studente het kampus ontwrig toe bande buite die kampus se hekke aan die brand gesteek is. TUT se bestuur moes die kampus se hekke sluit en alle personeel huis toe stuur.

“Dit is belaglik dat Sasco weereens die rassekaart speel wanneer die kampus 86,05% swart studente het teenoor 11,91% wit.  Mnr Sigfried Tivana hits rassehaat aan op die kampus deur sy sogenaamde stelling dat Afrika-studente uitgesluit word en dat TUT ‘n Afrikaner-gedomineerde instansie is” sê Jean Kriek die Gautengse jeugleier van die Vryheidsfront Plus.

“Dié is niks anders as die misbruik van studente vir verkiesingsfoefies nie. Waar lê die logika hierin?  Die TUT-kampus is alreeds getransformeer en dan wil SASCO die einste kampus ontwrig en dreig om alle bedrywighede by die kampus tot stilstand te bring ter wille van transformasie” , het Kriek verder verduidelik.

‘Die VF Plus Gauteng Jeug dring daarop aan dat kampus-sekuriteit verskerp word en diegene wat kampus tot stilstand wil bring, aanspreeklik gehou word. Ons kan nie bekostig dat studente wat ‘n toekoms wil bou nie kan studeer oor die kampus se hekke gesluit en personeel huis toe gestuur word nie’, het Kriek gemaan.

Die Vryheidsfront Plus se jeug in Gauteng sal met regsgeleerdes konsulteer met die oog daarop om Sasco en Sigfried Tivana by die Menseregtekommissie (MRK) aan te kla.

 

Jean Kriek

Vryheidsfront Plus-jeugleier: Gauteng

076 015 2218