Sanral besig met tydrowende proses om skuld te verhaal van oneerlike kontrakteurs wat tolpadstelsel gehelp bou het

2014-07-23
Adv Anton Alberts

Sanral het nog geen sent verhaal van oneerlike kontrakteurs wat saamgespan het om tenders te bekonkel met die bou van die tolpadstelsel nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Dit is nieteenstaande die feit dat die Mededingingstribunaal tot op hede reeds 28 eisesertifikate aan Sanral toegeken het om ‘n deel van sy geraamde skuld van R20 miljard te verhaal wat anders net van die belastingbetaler verhaal sal moet word.

In ‘n geskrewe vraag van adv. Alberts aan die minister van vervoer, Dipuo Peters, oor die aangeleentheid, het adv. Alberts gevra of Sanral regstappe teen die betrokke maatskappye oorweeg, en of die geld wat op hierdie wyse bekom gaan word aangewend gaan word om sy skuld vir die opgradering te betaal.

In haar antwoord sê Peters al die betrokke projekte is ‘historiese’ projekte en daar moet eers ‘n ‘assessering van moontlike skade’ gedoen word alvorens enige eis ingestel kan word.

Dit vereis ‘baie navorsing’ en vir hierdie doel het Sanral ‘n onafhanklike waardeerder en ekonoom aangestel om inligting in te samel en te evalueer om te kyk of Sanral ‘wel enige skade gely het’. Weens die omvang van die taak kan dit nog 6 tot 9 maande duur om af te handel, lui die antwoord.

Oor die aanwending van geld wat moontlik teruggekry kan word, is die antwoord dat dit gebruik sal word vir onderhoud aan die paaie en vir die terugbetaling van skuld.

Adv. Alberts sê die VF Plus is hoegenaamd nie tevrede met die antwoord nie. Hy sê die Mededingingstribunaal het reeds ‘n ondersoek gedoen en ‘n bevinding gemaak. Sanral hoef dit nie weer te doen nie, maar moet net bepaal wat die skade is en dit verhaal.

“Indien die ondersoek nie behoorlik afgehandel word nie, sal die VF Plus Sanral aankla by die Kompetisiekommissie omdat hulle nie die tribunaal se bevinding wil aanvaar en daarvolgens optree nie. Ons sal ook die Ouditeur-Generaal (OG) vra om ‘n bevinding hieroor te maak,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403