SA-regering moenie kant kies in Israel/Palestyne konflik, sê opposisieleiers

2015-09-14
Dr Pieter Mulder

Vyf Suid-Afrikaanse politieke opposisieleiers het pas teruggekeer van ʼn suksesvolle inligtingsbesoek van vyf dae na Israel en die Palestynse gebiede.

Hulle is dr. Pieter Mulder (VF Plus), mnr. Mosiuoa Lekota (Cope), genl. Bantu Holomisa (UDM), eerw. Kenneth Meshoe (ACDP) en mnr. Mangosuthu Buthelezi (IFP).

In ʼn gesamentlike verklaring sê die leiers die ontmoeting met amptenare en leiers van die Israelse Knesset of parlement in Jerusalem en die Palestynse Mukataa in Ramallah was baie vrugbaar. Gesprek is gevoer met die leiers van opposisiepartye, parlementslede, akademici en buite-parlementêre leiers.

Palestynse- en Israelse gebiede asook spesifieke konflikgebiede is besoek ten einde eerstehandse inligting te kan inwin. Die politieke vloeibaarheid en onstabiliteit in die hele Midde Oosterse streek en die invloed daarvan op wêreldpolitiek is ook bespreek.

Die verklaring lui:

Ons het die gesprek gevoer in die oortuiging dat Suid-Afrika aktief moet meewerk om kontak tussen die twee strydende partye aan te help.

Die besoek is onderneem met die wete en samewerking van die Israelse ambassadeur in Suid-Afrika, mnr. Arthur Lenk, en sy Palestynse eweknie, mnr. Bassam Elhusiny, wat deur die Palestynse owerhede persone geïdentifiseer het met wie gepraat kon word.

Sedert onafhanklikwording het Suid-Afrika volle diplomatieke bande gehandhaaf met Israel en Palestina en het die land daarna gestreef om antwoorde te help vind vir die Midde-Oosterse konflik. Die besoek het dus aangesluit by amptelike Suid-Afrikaanse beleid.

Teen hierdie agtergrond verwelkom ons die aanstelling van twee spesiale afgesante om die saak te help beredder. Hulle is die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, dr. Zola Skweyiya, en die voormalige adj.min. van buitelandse sake, mnr. Aziz Pahad.

In lyn met regeringsbeleid het ons deurentyd ʼn tweestaat-oplossing voorgestel. Dit is duidelik dat die konflik wêreldwye gevolge kan hê indien dit nie versigtig behandel word nie. Om kant te kies, sou onverantwoordelik en gevaarlik wees, en sou bloot in die weg staan van ʼn vreedsame oplossing.

Ons het teruggekeer na Suid-Afrika met ʼn dieper begrip vir die strewe van albei kante en die struikelblokke wat in die weg hiervan staan. Ons is daarvan oortuig dat die Suid-Afrikaanse regering neutraal moet staan in die proses, slegs gefokus op ʼn vreedsame skikking.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670