SA Polisie en sekuriteitsmaatskappye vat hande in Mokopane

2015-11-03
Die Redaksie

Die VF Plus gaan die nasionale polisie kommissaris in Limpopo versoek om weer reserviste aan te stel om so plaaslike polisiestasies te help in hul stryd teen misdaad, het Marcelle Maritz, die VF Plus se hooforganiseerder in Limpopo en wykskandidaat in Mokopane, na 'n vergadering Dinsdagoggend tussen die polisie, buurtwagte en sekuriteitsmaatskappy gesê.

Maritz is baie bekommerd oor die misdaadsyfer wat opwaarts neig en met die komende feesseisoen, is die verwagting dat die syfers verder kan styg.

Die vergadering in die polisiestasie is bygewoon deur die waarnemende stasiekommissaris, luit-kol. Alex Malebane, lede van Suricat-sekuriteit, Percy five-gemeenskapvereniging, Arend-bergwag, Spoorsnyers, SOS-sekuriteit, Rooikatte-buurtwag, boere en kleinhoewe-eienaars.

“Buurtwag- en sekuriteitslede is bekommerd oor die polisie wat sukkel om misdaad in toom te hou. Dit is daarom dat die polisie en sekuriteitsmaatskappye hande moet vat om die gemeenskap veilig te hou.”

Sy het ook ʼn beroep op belangegroepe gedoen om die volgende polisieforum-vergadering op 11 Desember om 10:00 by die Protea Park Hotel by te woon.

“Saam kan ons ʼn verskil maak, maar ons het die hele gemeenskap se samewerking nodig om misdaad te bekamp.”

Mense wat dringend polisiehulp nodig het en nie geholpe raak met die landlynnommer nie, kan gerus 10111 skakel of die polisiebystandnommer 081 505 9340.

 

Marcelle Maritz

078 617 8682