Rou riool en bloedwater vloei in Nala se strate

2015-02-17
Die Redaksie

Die Vryheidsfront Plus in die Nala-munisipaliteit is geskok oor hoe min die munisipaliteitsbestuur werklik vir sy dorpe omgee. Die totale verval van die munisipaliteit se rioolwerk wat in so ʼn haglike toestand is dat rou riool en bloedwater in Bothaville en Wesselsbron se strate vloei, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

Valerie Maas, VF Plus-raadslid in die Nala-munisipaliteit, sê dat die probleem rakende die rioolwerke reeds gedurende 2011 met die burgemeester, mnr. Magoje, bespreek is, maar dat daar tot vandag toe nog geen aandag daaraan gegee is nie.

Die VF Plus plaas die skuld vir die totale verval van Nala voor die deur van die ANC wat van bevoegde amptenare ontslae geraak het en vervang het met hulle onbevoegde kaders. Die VF Plus se standpunt is dat meriete die enigste maatstaf moet wees wanneer amptenare aangestel word. Die ANC moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die gemors waarin Nala hom bevind.

“Ons maak ten sterkste beswaar teen hierdie wanbestuur van die munisipaliteit en hulle kaderaanstellings. Die munisipaliteit moet dringend aan die rioolwerke, sy pompe en sy dreinering aandag gee, want die huidige toestande skep onhigiëniese toestande waar siektes met gemak uitbroei en tot epidemies groei wat inwoners se lewens in gevaar stel,” het Maas verder gesê.

Die VF Plus eis dat die munisipaliteit daadwerklik optree om hierdie riool-probleem op te los. Indien die munisipaliteit nie dringend stappe in werking stel om die rioolwerke en sy pompe te herstel nie, sal die VF Plus nie huiwer om strafregtelike klagtes in te dien nie.

 

Valerie Maas

082 925 0835