Roekelose leiers 'n bekommernis vir toekoms

2015-10-22
Die Redaksie

Tammy Wessels, Vrystaatse-jeugleier van die VF Plus, het vandag in 'n verklaring gesê dat die VF Plus-jeug die onlangse optogte wat tot klasontwrigting op onder meer die Universiteit van die Vrystaat gelei het, ten sterkste veroordeel.

Wessels meen dat dit totaal onaanvaarbaar is dat studente hul reg om protes aan te teken hoër ag as ander studente se reg om klasse by te woon, te studeer en tot veiligheid.

"Dit is onaanvaarbaar dat die UV se SR-president, mnr. Lindokuhle Ntuli, mede-studente aanhits tot betogings. Die Studenteraad het die verantwoordelikheid om vreedsame oplossings te midde van moeilike omstandighede te bemiddel. Die VF Plus-jeug eis dat daar deur die UV teen Ntuli opgetree word," sê Wessels.

Dit is kommerwekkend om te sien hoe die leiers van môre geen respek vir wet en orde het nie. Die VF Plus-jeug eis dat die ANC en EFF hul jeugleiers tot orde roep.

Die VF Plus-jeug verwelkom die UV bestuur se spoedige optrede om die situasie te bestuur, asook die interdik wat teen betogers wat klasse, toetse en ander UV-aktiwiteite ontwrig, te verkry.

Die VF Plus-jeug eis egter dat die UV-bestuur sal sorg dat die studente wat nie betoog nie (veral die studente wat in koshuise op kampus woon), verder beveilig word.

 

Tammy Wessels

082 490 6663