Regstellende aksie laat ook Transnet en Prasa ontspoor

2014-02-24
Adv Anton Alberts

Die rysmier-effek van regstellende aksie wat Suid-Afrika se staatsdiens lamlê, is nou ook besig om Transnet en Prasa (Passasierspooragentskap) letterlik en figuurlik te laat ontspoor, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Luidens ‘n mediaberig gister oor die Treinspoorveiligheidsreguleerder (RSR) se jongste veiligheidsverslag, blyk dit dat ontsporings en botsings Transnet en Prasa verlede jaar R555 miljoen gekos het. Die voorvalle word meestal aan ‘menslike faktore’ toegeskryf.

In Transnet se geval het sy verliese verlede jaar (meer as R300 miljoen), verdubbel teenoor 2012. Dit blyk ook dat 46 keer meer mense in Suid-Afrika beseer word weens botsings as in enige land van die Europese Unie.

Volgens adv. Alberts is hierdie statistiek ‘n goeie voorbeeld van die vernietigende effek van regstellende aksie aangesien die aantal ongelukke en dooie en beseerde mense in hierdie geval ‘getel kan word’.

“Luidens die verslae in die berig is daar kommer oor die bevoegdheid van treindrywers. Sommige is nie reg gekwalifiseerd nie terwyl ander nie die vermoë het om sekere kernfunksies uit te voer nie en deur ander drywers bygestaan moet word.

“Die ware probleem strek veel dieper en wyer en kan direk toegeskryf word aan regstellende aksie. Nie net drywers nie, maar duisende personeellede soos ingenieurs en tegnici met dekades se ondervinding en kundigheid is afgedank om plek te maak vir onbevoegde regstellende aanstellings.

“Die agteruitgang in diens kan feitlik daagliks in toenemende mate veral in voorstedelike gebiede gesien word. Treine wat laat is of sommige roetes glad nie diens nie weens personeelprobleme, sinjaalprobleme, ontsporings of ongelukke, raak ‘n daaglikse gesig.

“Die handjievol getroue en kundige werkers wat nog oor is, moet hulself afsloof deur gereeld lang ure en oor naweke te werk in die plek van onbekwame en ongedissiplineerde kollegas en dit skep ‘n veiligheidsrisiko.

“Die afgetredenes wat ‘n lewe van getroue diens gelewer het, is boonop sleg behandel deur hul vorige werkgewer en die VF Plus help tans met ‘n klasaksie-eis van sowat R80 miljard wat pensioenarisse teen Transnet ingestel het. Die saak sal moontlik in die jaar aangehoor word.

“Dit is vir ons duidelik dat net die soustrein nie probleme ondervind nie. Hierdie is ‘n ernstige probleem aangesien menselewens direk daardeur geraak word en die VF Plus sal die saak op hoogste vlak aanroer om oplossings te vind,” sê adv. Alberts.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403