Regstellende aksie in Wes-Kaap sal nes elders in die land dienslewering verswak

2014-12-03
Rdl André Fourie

Regstellende aksie (RA) bly ʼn onding en dit kan nie betwis word dat dit dienslewering in Suid-Afrika ernstig kortwiek nie. Daarom sal die VF Plus dit ook in Kaapstad teenstaan, in welke vorm dit ook al aangebied word, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

So het mnr. Fourie vandag gesê in reaksie op Stad Kaapstad se versoek om bevestiging dat die Wes-Kaap se demografie as riglyn in Kaapstad gebruik moet word met die implementering van RA in die stad om uitvoer te gee aan die stad se beleid van ‘Daarstelling van Diensbillikheidsdoelwitte’.

Mnr. Fourie het ʼn beroep op die burgemeester gedoen om dié maatreël te laat vaar en het gesê die VF Plus sal dit nie steun nie aangesien daar meer as genoeg voorbeelde in Suid-Afrika en elders in die wêreld is – soos Amerika - oor die mislukking daarvan.

Hy het gewys op ʼn onlangse internasionale kongres wat die Staatdienskommissie van Suid Afrika aangebied het waar duidelik gesê is dat kaderontplooiing onder die naam van RA en transformasie en die aanstelling van persone in posisies waarvoor hulle nie opgewasse is nie, van die hoofoorsake is vir swak dienslewering.

“Dieselfde kommissie het reeds erken dat baie staatsdepartemente gebuk gaan onder wanadministrasie, vaardigheidstekorte en korrupsie en dat hulle op die rand van ineenstorting is.

“Selfs die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika bevestig hierdie situasie en sê onomwonde dat die aanstelling van onkundige mense dienslewering drasties inkort,” sê mnr. Fourie.

Mnr. Fourie het verwys na syfers wat die VF Plus met parlementêre vrae bekom het wat daarop wys dat binnelandse sake reeds 92% swart mense in diens het teenoor die demografiese 79% van swart mense in Suid-Afrika. Dit hoofsaaklik ten koste van wit en bruin.

“Ons weet dit is ook die tendens hier in Kaapstad waar wit en bruin reeds deur swart bevoordeling aan die agterspeen moet suig selfs onder die Wes-Kaapse demografie.

“U sal seker aanvoer dat die DA dit beter sal doen, maar dit sal neerkom op die uitlatings van minister Blade Nzimande wat sê kommunisme is nie reg uitgevoer in lande waar dit gefaal het nie! Dit is onsin.

“As hierdie stad in beginsel hierdie weg voortsit, gaan ons die wrang vrugte daarvan pluk. As jy swanger is, is jy swanger. Daar is nie iets soos meer of minder swanger nie. Net so is RA in beginsel verkeerd. Verkeerd is verkeerd en dit kan nie reg gewens word nie,” sê mnr. Fourie.

 

Kontaknommer: 083 441 9262