Regstellende aksie benadeel onderwys

2013-11-26
Die Redaksie

“Geen skool of onderneming kan behoorlik funksioneer sonder ‘n bestuur nie. Die regering sal sy standpunt ten opsigte van Swart Ekonomiese Bemagtiging en onderwys moet heroorweeg”, sê Jean Kriek, leier van die VF Plus-jeug in Gauteng.

Dit volg nadat die Gautengse LUR vir onderwys, Barbara Creecy, na aanleiding van ‘n vraag in die provinsiale Wetgewer, genoem het dat daar tans 99 vakante skoolhoofposte in Gauteng is. Creecy het verder gesê dat daar in die afgelope drie jaar 235 vakante skoolhoofposte in die provinsie was.

“Die regering maak gereeld beloftes oor beter onderwys. In Maart vanjaar het president Jacob Zuma belowe om 98 nuwe skole in die komende jaar te voltooi in ‘n poging om basiese onderwys reg te ruk. Die logiese aanname wat egter gemaak kan word, is dat daar eerstens gefokus moet word om bestaande skole in orde te kry. Die begin punt sal wees om gekwalifiseerde skoolhoofde by hierdie skole aan te stel – ondanks hulle ras”, sê Kriek.

Kriek het verder verwys na die 2013-verslag van die World Economic Forum (WEF) waar Suid-Afrikaanse leerders die tweede laaste plek in wiskunde en wetenskap op die wêreldranglys behaal het. Met betrekking tot die kwaliteit van onderwysstelsels het Suid-Afrika die 140ste plek van 144 lande behaal en het ook swak gevaar met die gebruik van tegnologie in skole.

“Die regering sal ‘n kopskuif moet maak ten opsigte van onderwys en regstellende aksie. Gekwalifiseerde opvoeders wat oorgesien word in Suid-Afrika word gelok deur 1ste wêreldlande waar die waarde van onderwys en die belangrikheid van vaardige opvoeders hoog aangeslaan word”, sê Kriek.

“Die VF Plus-jeug in Gauteng eis dat die 99 vakatures op meriete gevul word sonder rassevoorkeur. Om ons onderwysstelsel reg te ruk is van groter belang as om te wag dat persone met die regte velkleur, volgens die ANC, aansoek doen.”

 

Jean Kriek

076 015 2218