Regering stoomroller voort met mislukte grondhervormingstelsel

2015-05-08
Dr Pieter Groenewald

Die ANC-regering is nie eerlik in sy onderhandelinge oor grondhervorming nie en stoomroller met die mislukkende stelsel voort sonder inagneming van ondernemings of ooreenkomste met landbou-belangegroepe, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat vir dié departement gesê die minister het ingrypende aankondigings oor grondhervormings gemaak wat daarop neerkom dat grond, buiten in uitsonderlike gevalle, bloot onteien kan word.

Hy sê dit beteken dat die regering nou afstand gedoen het van sy aanvanklike beleid en standpunt van ʼn 30%-herverdeling van wit blanke landbougrond na swart boere toe.

“Die ANC kan duidelik nie sy woord hou nie. U het voor die verkiesing, na die regering die knie gebuig het voor die EFF, vorendag gekom met die beginsel van ʼn 50/50%-verdeling. Toe het die minister onderneem om aan landbou-organisasies die geleentheid te bied om voorstelle in die verband te doen.

“Maar nog voor die tydperk einde Maart verstryk het om voorstelle op die tafel te plaas, het die staatspresident reeds aankondigings gemaak oor die 50/50%-verdeling.

“Sodoende is die landbou totaal misken. Waarom moet organisasies nog voorstelle indien as die regering eensydig klaar besluit het hy gaan voort?

“Grondhervorming in Suid-Afrika het misluk tot nou toe weens onbevoegdhede en korrupsie in die departement oor die jare. U self het erken dat sowat 90% van alle grondhervormingsprojekte in die land misluk het.

“Maar u gaan eenvoudig voort. Nou wil die staat net grond onteien. Waar gaan hierdie geld vandaan kom? Of sê u eintlik die grond gaan bloot gevat word en die regering sal besluit wat om te betaal? Dit is ʼn resep vir konflik wat die regering nie sal kan hanteer nie,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403