Reaksie op kabinet

2014-05-25
Dr Pieter Mulder


Mediaverklaring

Die SAKP-lede in die kabinet het grootliks hulle posisies behou en is ook bevorder. Meeste van die SAKP se senior lede is tans ministers of adjunkministers. Dit bevestig ’n ideologiese skuif na links in die kabinet wat korreleer met die president se uitspraak dat ’n meer radikale fase van sosio-ekonomiese transformasie nou gaan volg. Teen hierdie agtergrond is dit ’n groot fout en stuur dit ’n totaal verkeerde sein na die finansiële sektor om die betroubare minister Pravin Gordhan by finansies weg te neem.

Die daarstelling van ’n propagandaministerie waaronder die SABC val, voorspel niks goed vir die toekoms nie. Tydens hierdie verkiesing het ons reeds te doen gekry met die grootskaalse misbruik van staatsfondse en -geriewe ten einde die ANC as politieke party te bevorder. Met so ’n ministerie moet minder skeiding tussen staat en politieke party verwag word - veral ook omdat die SABC nou onder daardie departement val.
Hierdie skuif sal sonder twyfel die onafhanklikheid van die SABC grootliks aantas.

Opvallend ook is die feit dat die twee parlementslede wat gesorg het dat die Nkandla-verslag voor die verkiesing van die tafel geskuif word, albei beloon is terwyl Max Sisulu, vorige Speaker, gestraf is en geen pos gekry het nie. Beide mnre. Buti Manamela en Luwellyn Landers wat namens die ANC op die Nkandla parlementêre komitee gedien het, is bevorder.

Dit is verder betekenisvol dat die nuwe minister van landbou, Senzeni Zokwana, ook Nasionale Voorsitter van die SAKP is en tot onlangs president van NUM met die kontroversiële Bheki Cele as adjunkminister. Mag die belangrikheid van landbou vir voedselsekerheid en toekomstige stabiliteit besef word en die landbou en
kommersiële boere nie vir die volgende vyf jaar ’n verdere ideologiese slaansaks wees nie.

Mnr. Cyril Ramaphosa se aanstelling as adjunkpresident plaas hom in lyn om die volgende president te word. Dit is positief omdat daar baie gerugte was dat die president met ’n tweede adjunkpresident wil probeer voorkom dat Ramaphosa hom opvolg. Die reuse taak gaan op mnr. Ramaphosa se skouers rus om teen die weerstand van die SAKP-lede in die kabinet die NOP te probeer deurvoer.

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403