Rampbestuursplan in Gauteng moet opgedateer word

2015-09-21
Die Redaksie

Die VF Plus het tydens ‘n mosie in die Gauteng Wetgewer dit duidelik gemaak dat munisipaliteite in Gauteng indringend sal moet kyk na hul rampbestuursplanne om dit aan te pas by die huidige omstandighede aangesien die meeste munisipaliteite in die provinsie se rampbestuur glad nie in werking is nie of veels te oud is.

Hierdie stelling volg nadat daar gedebateer is oor ‘n mosie wat ter tafel gelê is oor die gevaar van brande wat jaarliks arm mense in die provinsie se lewens eis. Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het tydens hierdie debat die aandag daarop gevestig dat dit nie net swart mense is wat in informele nedersettings woon en aan hierdie gevare blootgestel word nie, maar dat in Pretoria, die Oosrand en Wesrand daar ook blanke informele nedersettings bestaan. Van Staden het genoem dat hyself al arm mense se verkoolde liggame uit wendyhuise in die weste van Pretoria moes help uithaal nadat hul huisies in die winter afgebrand het.

“Die behuisingsprobleem in Gauteng en die groot skaalse armoede wat daagliks net meer en meer word, is een van die oorsake wat daartoe bydra dat arm mense jaarliks in Gauteng in informele nedersettings sterf weens brande wat ontstaan. Munisipaliteite se rampbestuursplanne bestaan of glad nie of is reeds ouer as veertig jaar. Daar sal indringend deur die provinsie ingegryp moet word om ‘n grootskaalse ramp, wat derduisende lewens kan eis, te probeer keer en om toe te sien dat elke gemeenskap in Gauteng ‘n rampbestuursplan het wat voldoende inwerking gestel kan word en nie net die afgelope veertig jaar op papier bestaan nie.”

Van Staden het ook die ANC daarop gewys dat dit ‘n skande is dat inwoners in die provinsie nog steeds in sulke haglike omstandighede moet leef wat by die dag net erger raak. Hy het ook daarop gewys dat munisipaliteite die afgelope jare probeer het om mense uit hul wendyhuise te sit om kamstig hul lewens teen brande te beskerm maar dit is die regering se verantwoordelikheid om toe te sien dat hierdie mense voldoende behuising kry en nie op straat soos vrot lappe gegooi word nie.

Die VF Plus het die Premier, Mnr. David Makhura, versoek om by hierdie saak in te gryp.

 

Philip van Staden LPW Gauteng

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za