R30 miljard weg: Tree nou op teen vermorsing van staatsgeld

2013-11-15
Adv Anton Alberts

Dit is haas ondenkbaar dat meer as R30 miljard van die staat se geld wat uit die belastingbetaler se sak kom in een jaar vermors word sonder dat koppe op hoë vlak rol en die skuldiges voor die hof gebring word, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Luidens ‘n verslag van die ouditeur–generaal (OG) wat hierdie week uitgereik is, het staatsdepartemente en –entiteite in die boekjaar tot 31 Maart 2013 altesame R30,3 miljard vermors.

Die provinsiale departemente van gesondheid en onderwys was die grootste sondaars van die 32 staatsdepartemente wat ongemagtigde uitgawes aanbetref.

Volgens adv. Alberts is dit ‘n ernstige aanklag teen die regerende ANC en sy vermoë om die land en sy administrasie sinvol te bestuur. Hy sê veral wat die departemente van gesondheid en onderwys aanbetref is dit ‘n ‘tragedie’ gegewe die twee departemente se uiters swak prestasie.

“’n Mens sou ‘n publieke uitbarsting hieroor verwag, maar dis duidelik dat die publiek korrupsie en bedrog byna al as die norm van staatsadministrasie begin aanvaar en vuisvoos raak voor die aanhoudende bombardement van ongerymdhede.

“Wat veral kommerwekkend is, is die bewyse dat kontrakte ter waarde van R232 miljoen toegeken is aan die familie van staatsamptenare terwyl daar by 44 openbare entiteite kontrakte ter waarde van R17 miljoen toegeken is aan werknemers van die entiteite self.

“Dit is ‘n duidelike bewys hoe SEB gebruik word as meganisme om die staatskas leeg te steel en ‘n handjievol swartes te verryk terwyl die massas verarm.

“Die VF Plus is van mening dat hierdie syfers boonop net die oortjies van die seekoei is aangesien daar wyd algemeen verdenking is oor onder meer die data wat Afrika-regerings gebruik om hul boeke te laat balanseer.

“Die internasionaal bekende prof. Morten Jerven van Vancouver het wyd navorsing in Afrika gedoen wat daarop neerkom dat data wat baie Afrika-lande gebruik om projeksies rondom ontwikkeling en ekonomiese groei te maak, op ‘n geknoei neerkom en min geloofwaardigheid dra,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403