President Zuma moet sê hoeveel soldate saam met die polisie ontplooi is

2015-04-22
Dr Pieter Groenewald

Slegs die staatspresident van Suid-Afrika kan magtiging verleen dat die SA Nasionale Weermag (SANW) saam met die polisie ontplooi word. Pres. Jacob Zuma moet daarom in terme van artikel 201 (3) van die Grondwet die redes, plekke, hoeveelheid en periode verskaf vir die ontplooiing van die weermag saam met die polisie, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie en verdediging.

Dr. Groenewald sê dit is daarom verkeerd van die minister van verdediging, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, om nie te wil sê hoeveel soldate saam met die polisie ontplooi gaan word nie. Sy het gister aan die media gesê sy kan om ‘veiligheidsredes’ nie sê waar en wanneer die weermag ontplooi gaan word nie.

Volgens dr. Groenewald is die ontplooiing van die weermag saam met die polisie ʼn ernstige ingryping en dui dit op ʼn redelike groot risiko van onstabiliteit.

“Die Grondwet maak voorsiening dat die president die toestemming van die parlement kan kry vir weermaghulp aan die polisie, en indien die parlement nie in sitting is nie, van die verdedigingskomitee. Indien dit nie nagekom word nie, is sodanige ontplooiing ongrondwetlik en dus onwettig.

“Die VF Plus het nie beswaar daarteen dat die weermag saam met die polisie ontplooi word in hierdie geval nie, maar die regering sal ernstig moet besin om te verseker dat veiligheidsdienste soos die polisie en intelligensie hul werk behoorlik doen om te voorkom dat onstabiliteit so erg raak dat die SANW gebruik moet word,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403