President se Staatsrede

2014-06-17
Dr Pieter Mulder

Geen oorspronklike en konkrete voorstelle is deur president Zuma gemaak in sy staatsrede oor hoe die Suid-Afrikaanse ekonomiese groeikoers verbeter kan word nie. Die Nasionale Ontwikkelingsplan is net terloops genoem terwyl dit die sentrale boodskap van ‘n ekonomiese herstelplan behoort te wees. Die algemene indruk was dat die president gedemp voorgekom het en dat die gas uit die Zuma-bottel is.

So is ook geen spesifieke voorstelle gemaak om ‘n herhaling van die onlangse mynstakings te voorkom nie. Behuising en beter leeftoestande vir mynwerkers is belangrik, maar dit gaan nie die kernprobleme aanspreek nie. ‘n Voorstel oor hoe die arbeidswetgewing byvoorbeeld gewysig kan word om ‘n soortgelyke staking te voorkom, sou positiewe reaksie van beleggers en kredietgraderingsmaatskappye uitgelok het. Geheime stemmings voor ‘n staking of die verklaring van meer terreine as noodsaaklike dienste is van die voorstelle wat gemaak kon word.

Die klem op die uitbou van die energie-infrastruktuur word verwelkom. Dit is die regering se taak om infrastruktuur te verskaf waarna die privaatsektor die werkgeleenthede en ekonomiese groei sal kan verbeter. Of die regering die kapasiteit het om al die projekte deur te voer, word egter betwyfel.

Die aankondiging dat staatsamptenare nie meer met die staat mag besigheid doen nie, moes lankal gedoen word om korrupsie te help bekamp. Nogtans word dit ondersteun en verwelkom.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403