Poskantoor betaal sy werkers laat

2014-11-25
Adv Anton Alberts

In die voortslepende poskantoor-stakingsdebakel is ʼn groot groep werkers wat koerierdienste verrig, gister eers in kennis gestel dat hulle weens ‘kontantvloei-probleme’ ʼn dag laat betaal sal word (eers op 26 November), sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Adv. Alberts sê dit skep probleme vir baie van die mense aangesien aftrekorders by baie mense vandag reeds uitgevoer word.

“Dit wys net hoe pligsgetroue en nie-stakende werkers gebuk moet gaan onder die wanorde wat stakers en hul vakbonde veroorsaak.

“Om sake te vererger, is baie van die lojale werkers in ʼn situasie waar hulle tevrede moes wees met die jaarlike verhogings wat hulle gekry het. Die VF Plus se inligting is dat hulle verhogings die afgelope drie jaar gemiddeld 2% minder was as dié van vakbondlede.

“Met die huidige skikkingsbedrag van 6.5% wat aan stakers aangebied is, is daar ook groot ontevredenheid en die siening is dat net diegene wat brand, breek en staak, goeie verhogings kry.

“Die VF Plus verneem ook dat baie van die senior wit bestuurspersoneel pakkette neem omdat hulle nie langer aan die chaos en onsekerheid uitgelewer wil wees nie. Hierdie verlies aan kundigheid sal die poskantoor se vermoë om te herstel, ernstig aan bande lê en die uitbetaling van die uittree-pakkette sal ook ʼn groot bykomende geldelike las op die haas bankrot organisasie plaas.

“Dit is werklik te betwyfel of die poskantoor na dese weer na sy oorspronklike hoë vlak van dienslewering sal kan terugkeer.

“Ongelukkig is dit die prys wat gewone landsburgers oor die hele spektrum van dienslewering in die land betaal met die ANC-regering wat willens ten koste van die land se ekonomie deur sy vakbond-alliansievennoot se stert rondgeswaai word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403