Plaasmoorde: Elke Suid-Afrikaner ly daaronder

2017-02-15
Jan van Niekerk

Dit is met skok en afgryse wat die VF Plus verneem het van nog ‘n plaasmoord die pasafgelope Dinsdag. Die moord op die Smuts-egpare van Mpumalanga volg kort na ‘n aanval op die Van der Merwe-egpaar van Marquard, wat ‘n noue ontkoming met die dood gehad het, sowel as plaasaanvalle in Luckhoff en Hertzogville in die Vrystaat.

Mnr. Jan van Niekerk, provinsiale leier van die VF Plus in die Vrystaat en self ‘n boer, het sy meegevoel met die slagoffers van hierdie afgryslike en sinnelose misdade uitgespreek. Die land staan geskok en moedeloos na die soveelste aanval. Hy het gesê dat mens nie anders kan as om woedend en wanhopig oor die elf plaasmoorde in die afgelope twee weke te voel nie, om nie eers te praat van die duisende voorafgaande plaasaanvalle en –moorde nie.

Die impak van so ‘n aanval is baie meer verrykend as wat ‘n mens sou dink. Voedselsekerheid en die bydrae tot die BBP is van die faktore wat skade ly, maar die sosiale en sielkundige impak op plaaswerkers en landbouers en hul gesinne is onherroeplik.

“Op dieselfde dag het Statistiek Suid-Afrika die werkloosheidsyfers vir die vierde kwartaal van 2016 bekend gemaak. Die werkloosheidskoers is 1.4% hoër as dieselfde kwartaal in 2015. Die landbousektor het 919 000 werknemers in diens en verskaf jaarliks aan 6.9% van die arbeidsmag werk, dit is die tweede meeste van al die industrieë in Suid-Afrika. Met slegs 35 000 kommersiële boere in Suid-Afrika is die skade wat ‘n enkele plaasmoord aan werksekerheid en die welstand van werkers se gesinne aanrig onherroeplik,” het Van Niekerk gesê.

Die landbousektor is reeds onder soveel druk met grondhervorming, die gevolge van die droogte en die konstante bedreiging van boere en plaaswerkers se veiligheid, dat ons nie kan bekostig om terug te sit en die status quo verder te aanvaar nie.

Elke Suid-Afrikaanse burger moet besef dat hy of sy indirek deur elke plaasmoord geraak word. Dit is tyd dat ons as landsburgers opstaan teen hierdie sinnelose geweld wat tot hoër voedselpryse, onsekere ekonomiese toestande, toenemende misdaad en die uitmoor en verarming van ons medemens lei.

 

Kontakbesonderhede: 083 743 2042 / 082 674 6670