Plaasaanvalle: Regering moet besin

2013-10-24
Dr Pieter Groenewald

Die verwarring rondom plaasaanvalle en –moorde word deur die staat self veroorsaak aangesien daar sedert 2007 nie statistiek hieroor gehou word nie, sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.

Dr. Groenewald sê hierdie verwarring lei tot persepsies oor swart-op-wit-misdaad, en kritiek dat mense wat daaroor praat, vrees en rasseverdeeldheid aanblaas.

“Hierdie kritiek moet voor die staat se deur gelê word en nie voor die deur van mense wat met reg bekommerd is oor die aanvalle en almal wat daardeur geraak word nie,” sê dr. Groenewald.

Syfers van die SA Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en Transvaalse Landbou-Unie (TLU) wat vandag gepubliseer is, dui daarop dat plaasaanvalle toegeneem het en dat daar meer voorvalle landwyd was as in 2012.

Daar word ook gereeld berig oor die buitengewone wreedheid wat met die aanvalle gepaard gaan.

Volgens die ISS word 120 uit elke 100 000 boere vermoor, teenoor die sowat 31 uit 100 000 gewone landsburgers en 54 uit 100 000 polisielede. In die laaste tien jaar is meer as 800 mense op plase vermoor, luidens mediaberigte.

Dr. Groenewald sê indien iemand van die syfers verskil, moet daar druk op die regering geplaas word om die ware omvang daarvan bekend te maak.

“Die VF Plus is lank reeds besig om by die regering daarop aan te dring om landelike misdaad tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar. Tot dit nie gebeur nie, sal onsekerheid en raaiwerk daaroor voortduur en moet die regering die blaam daarvoor dra.

“Niemand kan betwis dat ons landbou-gemeenskap swaar deur misdaad geraak word nie. Die VF Plus sal nie daaroor swyg nie,” sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald sê verskeie organisasies hou hul eie statistiek by oor plaasaanvalle, maar dit word hoofsaaklik verkry van mediaberigte.

Hy sê dit is ‘n onakkurate manier om statistiek te versamel aangesien die media nie oor elke misdaad in Suid-Afrika berig nie en hulle inligting vanaf die polisie nie altyd aantoon dat die voorval op ‘n plaas plaasgevind het nie.

Die SA Instituut vir Rasseverhoudinge het al by monde van dr. Frans Cronjé gesê dat daar tot sewe plaasaanvalle plaasvind vir elkeen waaroor berig word en dat wit boere tot dertien keer meer blootgestel is aan aanvalle as stads- of kleinhoewebewoners.

“Ons by die VF Plus is bekommerd oor alle misdaad, maar veral oor landelike misdaad en onverantwoordelike uitsprake oor grondhervorming wat daarmee gepaard gaan.

“Ons kan nie genoeg klem daarop lê dat druk vanuit alle oorde op die regering geplaas moet word om die situasie as hoogste prioriteit te beskou en dienooreenkomstig op te tree nie,” sê dr. Groenewald.

 

Dr. Pieter Groenewald

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403