Parlement faal inwoners van Suid-Afrika deur Nkandla nie te ondersoek

2014-07-22
Dr Corné Mulder

Die vyfde parlement van Suid-Afrika het die land se inwoners gefaal deur nie die Openbare Beskermer (OB) se verslag oor Nkandla te laat ondersoek nie, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die Vryheidsfront Plus.

Dr. Mulder het vandag met die parlement se begrotingsposdebat gesê dié instelling behoort nie aan die regerende party nie en belangrike besluite in die parlement behoort nie vanuit Luthuli-huis geneem te word nie.

“Wat ons in die parlement sien, is regering deur Luthuli-huis, en die regering van Suid-Afrika is te belangrik om op dié manier beheer te word, het dr. Mulder gesê.

Dr. Mulder het gesê Nkandla is ‘n goeie voorbeeld oor hoe belangrike besluite wat in die parlement geneem moet word, vanuit Luthuli-huis beheer word.

“Toe die eerste berigte oor Nkandla verskyn het, was die bedrag ter sprake R26 miljoen. Dit het later gegroei tot R65 miljoen. En die parlement het niks daaraan gedoen nie.

“Die Openbare Beskermer het vier maande gelede haar verslag en bevinding oor Nkandla bekend gestel. Toe het die bedrag al op R246 miljoen gestaan. Die vierde parlement het ‘n ad hoc-komitee saamgestel om die verslag te behandel, maar die ondersoek is gekelder vanuit Luthuli-huis.

“Nou sit ons in die vyfde parlement, en die belangrikste wat die parlement vandag kon doen om die publiek vertroue in die parlement te gee, sou wees om te besluit om so gou moontlik weer ‘n komitee aan te wys om Nkandla te ondersoek. Dit het nie gebeur nie.

“Hoe kan die publiek hierdie parlement ernstig opneem as hy wys hy is nie ernstig oor Nkandla nie? Vandag het ‘n gulde geleentheid verlore gegaan om hierdie saak reg te stel,” het dr. Mulder gesê.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403