Openbare vervoer word afgeskeep

2015-05-05
Adv Anton Alberts

Dit is die regering en die departement van vervoer se plig om in belang van Suid-Afrika se ekonomie te sorg dat die land se werkmag goedkoop, veilig en stiptelik van hul wonings werk toe en terug vervoer word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Hy sê alhoewel die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) die ANC-regering aanraai om meer in openbare infrastruktuur aan vervoer te bestee, is dit duidelik uit dié departement se begroting dat dit nie gedoen word nie.

Volgens adv. Alberts is ʼn wesenlike probleem dat die regering al hoe meer beplan om gebruik te maak van ʼn ‘Gebruiker Betaal’-beginsel, met ander woorde meer tolpaaie om die probleem van ʼn tekort aan paaie te behandel.

“Die minister van vervoer (Dipuo Peters) behoort nou al te weet wat die publiek van tolpaaie dink. Indien sy voortgaan met hierdie planne, moet sy begroot vir konflik vorentoe,” sê adv. Alberts.

Adv. Alberts sê daar is wyses hoe die departement geld kan spaar wat eerder aangewend kan word om Gauteng se e-tolskuld te betaal en wat in die kort-, en lang termyn aangewend kan word vir die bou van paaie:

  • Die eerste hiervan is om weg te doen met Aarto, die mislukte stelsel vir die beregtiging van verkeersmisdrywe aangesien dit geensins bygedra het tot veiliger paaie wat sy primêre doel was nie. Dit het ontaard in ʼn dwang-instrument om onwettige boetes te verhaal en moet summier geskrap word;
  • Ten tweede het die Mededingingskommissie reeds toestemming aan Sanral verleen om buitensporige betalings aan konstruksiemaatskappye wat by die bou van die tolpad betrokke was, terug te eis. Dit moet gedoen word. Sanral is tans vreemd swygsaam oor die aangeleentheid.

“Die voorgestelde Oorhoofse Vervoer Ekonomiese-reguleerder is iets waarna verbruikers en ekonomiese rolspelers kan uitsien, mits dit vinnig geskep word en dit sterk en onafhanklik optree om vervoerpryse billik te reguleer. Tans word verbruikers uitgebuit en het dit ʼn negatiewe impak op die ekonomie.

“Dit sal die minister ook loon om die president te oorreed om ʼn kommissie van ondersoek aan te stel na die wanbestuur van die Padongelukkefonds. Die fonds faal nie omdat die stelsel swak ontwerp is nie, maar weens swak bestuur.

“Dit is ʼn vals redenasie om te dink die stelsel gaan verbeter deur dit te vervang met die voorgenome Padongelukkefonds Voordeleskema, ook bekend as RABS. Hierdie nuwe stelsel is wesenlik gebrekkig omdat dit eisers ontneem van onafhanklike regsadvies. Dit beperk ook die fondse wat nodig is om vir eisers te sorg vir die res van hulle lewe waar nodig.

“Om te fokus op rehabilitasie terwyl die openbare gesondheidstelsel uiters gebrekkig is, is uiters naïef. Die RABS-stelsel is eintlik niks anders nie as ʼn vorm van bedrog waar ʼn beter bedeling belowe word net om geld van die publiek te steel deur besparingsmetodes wat die eisers en publiek benadeel.

“Dit moet in gedagte gehou word dat die fondse van die Padongelukkefonds aan die publiek, en nie aan die regering nie, behoort. Die geld moet aangewend word om eisers te help om ʼn sinvolle lewe te leef. Enige iets anders is ongrondwetlik,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403