Openbare Beskermer tree op in Ekurhuleni na VF Plus-klagte

2014-02-21
Adv Anton Alberts

Die Openbare Beskermer (OB) het die afgelope week in ‘n gesprek met die VF Plus sterk standpunt ingeneem teen ongerymdhede en beweerde korrupsie by Ekurhuleni se departement van menslike nedersettings, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling.

Volgens adv. Alberts het ‘n afgevaardigde van die OB sy kommer uitgespreek oor verskeie probleme by laekoste-behuisingseenhede aan die Oos-Rand, veral in Tweedy Park in Brakpan en Farrarmere Gardens in Benoni, en het voorstelle aan die hand gedoen om die probleme te behandel en op te los.

Dit volg op ‘n versoek wat die VF Plus in April verlede jaar aan die OB gerig het om ondersoek te doen na talle bewerings van wanadministrasie en korrupsie in die departement. Die OB is genader nadat die klagtes geen aandag gekry het by die Ekurhuleni-metro nie.

Van die klagtes is dat amptenare wat verantwoordelik is vir die bestuur en toekenning van woonplek in die nedersettings omkoopgeld ontvang om aansoekers hoër op waglyste te plaas, en dat geen onderhoud aan die geboue gedoen word nie. Die OB het die volgende aanbeveel:

 

  1. Mense wat sonder ‘n hofbevel uit hul huise gesit is moet weer in wooneenhede geplaas word;

  2. Die dispariteit in en onbillike hoë huurgeld gaan verwys word na die Huur-Behuisingstribunaal vir beslissing;

  3. Ondersoek gaan ingestel word na voorvalle waar inwoners glo op onbehoorlike wyse gedagvaar word oor huurgeld;

  4. Ondersoek sal gedoen word na die beleid van eienaarskap-oordrag om metro-huise aan die inwoners oor te dra en waarom dit, anders as voorheen, nie meer gedoen word nie;

  5. Ondersoek sal gedoen word na swak onderhoud wat in sommige gevalle lewensgevaarlike omstandighede skep soos by Tweedy Park waar water in hysbakskagte afgeloop het;

  6. Ondersoek sal gedoen word oor die vereiste dat inwoners elke twee jaar hul huurkontrakte moet hernieu waar dit nie voorheen nodig was nie;

  7. Die bedrog-ondersoek teen ‘n amptenaar wat met plasings werk, sal voortgaan;

  8. ‘n Gesin waarvan al die lede gestremd is, moet weer geplaas word nadat hulle vroeër weens beweerde wanbetaling uit hul woonplek gesit is. In hierdie geval moes die gesin in ‘n motorhuis gaan woon waar die ma oorlede is. Volgens adv. Alberts moet die metro die skuld hiervoor dra.

     

Volgens adv. Alberts is die OB se samewerking en bevinding baie bemoedigend. “Die VF Plus staan maatskaplike geregtigheid voor en die staat moet in hierdie geval verantwoordelikheid aanvaar vir die swak bestuur wat tot die probleme gelei het,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403