Openbare beskermer moet ingryp by slimmter-ondersoek

2015-05-15
Die Redaksie

Die Vryheidsfront Plus gaan die Openbare Beskermer versoek om moontlike ongerymdhede te ondersoek rondom die slimmeter-kontrak wat vandeesweek summier deur die Tshwane munisipaliteit beëindig is.

Awie Erasmus, VF Plus stadsraadslid in Tshwane, sê die klagte behels ‘n ondersoek na onder meer hoe die tender toegeken is en of die firma (PEU Capital) sy verpligtinge nagekom het. Daar moet ook vasgestel word of Tshwane metro nalatig of selfs opsetlik in dié verband was.

‘n Verdere ondersoek moet vasstel of die firma en Tshwane amptenare aanspreeklik gehou kan word om die geld terug te betaal.

Tshwane metro het vandeesweek die PEU kontrak van R1,2 miljard gekanselleer.

“Die reëling was dat Tshwane metro slegs betaal wanneer die meters geïnstalleer is. Tot op hede is 12 900 meters vanaf Oktober 2013 tot Mei vanjaar geïnstalleer. Die maatskappy het reeds R830 miljoen ontvang wat beteken dit kos die belastingbetalers R64 341 per slimmeter. Die inligting is in ‘n dokument onthul wat hiedie week in die media uitgelek het.

Die burgemeester van Tshwane, Kgosiento Ramokgopa, het gister gedurende sy amptelike staatsrede ontken dat daar enige ongerymdhede rondom die beëindiging van die kontrak bestaan.

“Die gebeure rondom die kontrak is skrikwekkend en beklemtoon weer die onbevoegdheid van die metro bestuur. Die land is in ‘n ekonomiese wurggreep en om fondse so te verkwis is ‘n klap in die belastingbetaler se gesig. Dit kan nie geduld word nie,” meen rdl. Erasmus.

 

Awie Erasmus

Raadslid: Tshwane Metro Raad

Tel: 072 815 4053

awieerasmus@gmail.com