Onverantwoordelike politieke uitsprake dra by tot probleme van xenofobia in SA

2015-04-16
Dr Corné Mulder

Onverantwoordelike politieke uitsprake skep die klimaat vir geweld en wrywing in Suid-Afrika en die xenofobiese geweld wat onlangs in KwaZulu-Natal uitgebreek het, kan direk terugherlei word na die uitsprake van die Zoeloe-koning dat buitelanders nie in die land welkom is nie,” sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Volgens dr. Mulder het die uitlatings van pres. Jacob Zuma oor Jan van Riebeeck eweneens groot skade aangerig, al probeer die president dit met woordspeletjies ontken. Sulke uitlatings moet in konteks gesien word met gebeure wat daarop volg.

Dr. Mulder het gesê die VF Plus veroordeel xenofobiese geweld ten sterkste en daar is nie plek in Suid-Afrika vir hierdie soort optrede nie.

“Daar is ʼn bose ingesteldheid wat tans in Suid-Afrika heers. Waardes soos respek, integriteit, eerlikheid en dissipline bestaan feitlik nie meer nie. Gretigheid, disrespek, korrupsie en wetteloosheid het die plek daarvan ingeneem.

“Daar is nie plek vir radikalisme in Suid-Afrika nie, en daar is genoeg gematigde mense in hierdie land wat besef hoe ernstig die probleem is. Laat ons almal hande vat en saam beweeg vorentoe,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403