Onderwysstelsel faal leerders voor matriek

2014-01-06
Dr Pieter Groenewald

Suid-Afrika se onderwysstelsel faal die jeug reeds lank voordat hulle matriek skryf en ontneem die land van die noodsaaklike boublokke vir sy toekoms, sê dr. Pieter Groenewald, parlementêre leier van die Vryheidsfront Plus.

Die arbeidsmark vereis meer van ‘n matrieksertifikaat as dit en skoolverlaters verkeer onder ‘n wanindruk as hulle dink ‘n matrieksertifikaat gaan ‘n werk verseker.

Veral die ontwrigtende rol wat onderwysvakbonde in die onderwyskrisis speel, moet uitgesonder word.

Die werklike tragedie van die uitslae lê egter daarin dat altesame 1 261 827 leerders in 2002 (verlede jaar se matrieks) skool begin het, en dat net meer as 562 112 verlede jaar hul matriekeksamen geskryf het.

Dit beteken dat slegs sowat 44,5% van die leerders hul skoolloopbaan voltooi het.

Volgens internasionale norme is die absolute minimum van leerders wat deur die stelsel moet gaan, 65%. In  gevorderde lande soos Finland en Swede is die syfer 98%.

Volgens dr. Groenewald moet ‘n gebrek aan dissipline in sommige skole, wat leerlinge sowel as sommige onderwysers insluit, as een van die groot redes gesien word vir die probleem.

Daarbenewens speel die swak kwaliteit van sommige opvoeders ook ‘n groot rol en is dit grootliks te wyte aan vakbonde wat hulle beskerm. Armoede en maatskaplike probleme het ook ‘n groot invloed op die hoeveelheid leerlinge wat nie skool voltooi nie, sê dr. Groenewald.

“Die onderwysstelsel opsigself is nie so swak nie, maar daar is baie faktore en rolspelers wat ‘n negatiewe impak op die werkbaarheid en sukses daarvan het, soos vakbonde, asook korrupsie en swak dienslewering in die departement.

“Indien die probleme doelgerig en met sterk leiding aangepak word, kan die situasie omgekeer word. Maar dit kan nie langer uitgestel word nie. Die tyd het gekom om daadwerklik op te tree,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403