Onderwys in Gauteng stuur op 'n krisis af

2015-09-04
Die Redaksie

Onderwys in Gauteng is besig om op 'n krisis af te stuur omrede die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, sy aandag vestig op onbenullighede soos die uitwissing van vorige model C-skole, kamstige rassisme en die verandering van Afrikaanse skole se name.

Die VF Plus is bekommerd oor die jaarlikse verslag wat die LUR vandag in Gauteng ter tafel gelê het. In hierdie verslag word daar op bl. 31-33 aangedui dat Gauteng slegs 2922 skole het waar daar oor die 2 433 342 leerlinge skoolgaan met slegs 85272 onderwysers om hierdie leerders op te lei.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het gesê dat die departement binnekort met 'n groot krisis gaan sit indien daar nie dadelik aandag aan hierdie probleem gegee gaan word nie.

"Ons sit met ‘n LUR wat sy aandag gee aan onbenullighede. Intussen sit die provinsie met n tekort aan skole en onderwysers. Die tydbom is besig om te tik en die LUR sal moet besef dat sy speletjies hom nog duur te staan gaan kom".

Die VF Plus is van mening dat onderwys aantreklik gemaak moet word om meer onderwysers te lok vir die groot groeiende getal leerders in die provinsie. Met die huidige situasie en die LUR se optrede, gaan mense eerder afgeskrik word om in onderwys te studeer.

 

Philip van Staden LPW Gauteng

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za