Nuwe Wetsontwerp op Arbeidsdienste nog ’n dolksteek in die rug van Suid-Afrika se ekonomie

2013-11-12
Adv Anton Alberts

Die ANC-regering se beoogde nuwe Wet op Arbeidsdienste moet gesien word teen ‘n agtergrond van beleid en wette wat besig is om Suid-Afrika se ekonomie en werksgeleenthede stelselmatig te vernietig, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor Arbeid.

Die beoogde wet bepaal dat die minister regulasies kan maak wat alle sake-ondernemings verplig om vakante poste aan die regering se arbeidsburo te rapporteer vir moontlike plasings van die staat se kant, en maak sodoende die deur oop vir kaderontplooiing in die private sektor.

Volgens adv. Alberts word die tragiese werklikheid van Suid-Afrika se ekonomiese krisis en werkloosheid feitlik daagliks weerspieël in tragiese mediaberiggewing oor mense wat uit nood selfmoord pleeg om aan die verskrikking van armoede en werkloosheid te ontsnap.

“Gister het ek oor die radio gehoor van ‘n ma wat eers haar twee kinders vergas en daarna selfmoord gepleeg het omdat sy nie op ‘n welsynstoelaag kon oorleef nie.

“Ek kan ook vir u vele verhale vertel van pensioenarisse wat nie meer woonplek of kos kan bekostig nie en hulself ook vergiftig of op ‘n ander wyse selfmoord pleeg. Ek sien dit veral by die Transnet-pensioenarisse.

“Midde-in hierdie groeiende tragedie is dit kommerwekkend om te sien hoe die ANC beleid implementeer wat die land se ekonomie vernietig. Die RIA-verslag oor die Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming, asook die kommentaar van voorste ekonome, is dit eens in snydende kritiek oor die impak wat die wet op die land se ekonomie sal hê.

“Hierdie wet sal nie net kwynende rykdom verdeel nie, maar sal effektiewelik daartoe bydra om dit af te breek. Die Wetsontwerp op Arbeidsdienste sal dieselfde doen, en dit is uiters kommerwekkend.

Wat dit vererger is dat geen onafhanklike navorsing bestaan wat bewys dat Breë-basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wel swart mense bemagtig nie,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts maak die beoogde wet teen hierdie agtergrond sy verskyning en die gebreke daarin is duidelik om te sien.

“Ten eerste wil die staat deur middel van dwang ‘n privaatfunksie oorneem wat bes moontlik ongrondwetlik is. Ten tweede wil die staat poste aanbied op grond van rassistiese wetgewing, naamlik die Wet op Gelyke Indiensneming.

“Laastens, wil die staat poste aanbied binne ‘n ekonomie wat swaar kry juis vanweë inmenging op rasse-basis wat nie volhoubaar is nie weens ‘n gebrek aan voldoende opgeleide kandidate en ‘n disfunksionele onderwysstelsel.

“Die wetsontwerp se oogmerk om werkskepping te bevorder is teen die agtergrond van regstellende aksie en SEB niks anders nie as misleidende vertoon en vioolspel terwyl Rome brand.

“Betreffende die DA, kan ek net sê dat julle die minderhede in die land verraai het. Julle het wel, alhoewel te laat, omgedraai oor regstellende aksie, maar rep nie ‘n woord oor SEB wat nog ‘n enger definisie van bevoordeeldes het en meer rassisties is nie.

“Julle het besluit het om die Wetsontwerp op SEB te ondersteun en het later die verskoning van ‘n ‘reeks foute’ gebruik om jul steun daarvoor te verdoesel.

 “Gaan julle voortgaan om die wet te steun? Indien nie, gaan (Helen) Zille, (Lindiwe) Mazibuko en ander parlementslede wat die wet gesteun het nou ook herontplooi word? Of is sommige van jul parlementslede nou meer gelyk net soos swartes meer gelyk is as wittes in die DA?

 “Vroeër was die DA bekend as die wit party, maar nou as die anti-wit en anti–minderheidsparty. Die prys hiervoor gaan hoog wees,” sê adv. Alberts.