Nuwe name vir koshuise van Universiteit van Johannesburg (UJ) misken die Afrikaner

2015-07-13
Adv Anton Alberts

Die herbenaming van koshuise van die Universiteit van Johannesburg (UJ) is eensydig en ʼn klap in die gesig van die Afrikaner wat ʼn sterk band met die universiteit het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir hoër onderwys.

Adv. Alberts sê dit is ironies dat swart studente self die status quo rakende die name wil handhaaf, maar dat die universiteitsbestuur onverbiddelik is in sy poging om ook hier alles wat Afrikaans is, weg te vee.

So ernstig is die UJ hieroor dat daar selfs in koerant-advertensies gevra word vir naamsvoorstelle. Net die koshuise Sophiatown en Hector Peterson sal hul naam behou.

“Hierdie is ʼn goeie voorbeeld waar mense met politieke agendas hul wil op ander afdwing sonder om die skadelike en kwetsende effek daarvan op ander groepe in ag te neem. Buiten die twee (Hector Petersen en Sophiatown) het die ander koshuise Afrikaanse nie-politieke name.

“Die VF Plus sal voorstel dat die ou name behou word, of dat een alternatiewelik vernoem sal word na die jong dogtertjie Isabella van Wyk wat op 23 Desember 1985 ernstig beseer is in ʼn ANC-bomontploffing in die Sanlam-winkelsentrum in Amanzimtoti. (Foto aangeheg).

“Daar is ʼn bekende foto waar die bewustelose en bebloede Isabella sekondes na die ontploffing in ʼn man se arms gedra word, soortgelyk aan die Hector Peterson-foto. Die gebruik van die naam sal erkenning gee aan die geskiedenis en seerkry aan alle kante in Suid-Afrika.

“Dit is belangrik om 'n gebalanseerde beeld van die land se geskiedenis daar te stel aangesien UJ sonder rede besluit het om polities te raak met die benaming van koshuise. As alumnus van die RAU besef ek hoe sake soos hierdie alle oud-studente kan raak ,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403