Nuwe leier vir VF Plus in Gauteng

2014-06-04
Die Redaksie

Die VF Plus se Gauteng Dagbestuur het ‘n nuwe leier vir die party in Gauteng aangewys na die uittrede in Mei vanjaar van mnr. Jaco Mulder.

Adv. Anton Alberts, wat tans as LP die VF Plus Gauteng in die Parlement verteenwoordig, is onbestrede as die nuwe Gautengse provinsiale leier aangewys. Adv. Alberts was die afgelope jare nou betrokke by groot sake in die politiek soos onder andere die e-tol-kwessie en die Transnetpensioenaris-aksie wat nog steeds deur hom gedryf word.

As onderleiers in Gauteng is mnr. Philip van Staden, nuwe LPW in die Gautengse Wetgewer en mnr. Franco de Lange, tans ‘n raadslid in die Johannesburgse metroraad, aangewys. Die LPW in Gauteng en nuwe onderleier, mnr. Philip van Staden, het sy tevredenheid met die nuwe aanwysings te kenne gegee.

“Die VF Plus is ‘n sterk party wat net bly groei en groei. Die stemuitslae van die afgelope verkiesing het dit deur en deur bewys. Die VF Plus het baie talent in sy strukture en met hierdie nuwe leierskap in Gauteng gaan die VF Plus in die provinsie van krag tot krag groei en nog sterker staan na die 2016-munisipale verkiesings.”

Die nuwe leierskap is reeds hard aan die werk en hierdie spasie moet beslis dopgehou word.

 

Philip van Staden, LPW Gauteng

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za