Nuwe arbeidsonrus dreig weer by Poskantoor

2015-02-10
Adv Anton Alberts

Daar is steeds groot probleme by die SA Poskantoor en die moontlikheid van hernieude arbeidsonrus is nie uitgesluit nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder ook kommunikasie.

Luidens ʼn dokument van een van die SA Poskantoor se grootste vakbonde, die Communication Workers Union (CWU), is daar veral groot ongelukkigheid oor die Poskantoor se interim-hoof, Simo Lushaba. Lushaba is einde verlede jaar tydelik aangestel nadat die minister van kommunikasie en poswese, Siyabonga Cwele, die Poskantoor se raad ontbind het.

ʼn Reeks aantygings word teen Lushaba gemaak en hy word daarvan beskuldig dat hy nie sterk genoeg teen wanadministrasie en bedrog optree nie. CWU beskuldig hom ook daarvan dat hy aan sommige vakbonde voorkeurbehandeling gee en sodoende wrywing tussen vakbonde en personeel veroorsaak.

Die skrywe meld dat daar teen CWU gediskrimineer word omdat hulle nie goeie verhoudinge met Cosatu en die regering het nie en dat selfs die polisie gebruik word om in te gryp in ‘geringe arbeidsgeskille’.

Die dreigement word gemaak dat die situasie ʼn ‘tydbom’ is en dat CWU sy lede reeds gemobiliseer het om ‘strate toe te gaan’ indien die minister nie ingryp en Lushaba uit sy pos verwyder nie.

Adv. Alberts sê die dreigemente moet ernstig opgeneem word en die minister moet dringend ingryp om die situasie te ontlont om te verhinder dat die Poskantoor die pad van ESKOM loop.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403