Noordwes se departement van openbare werke en paaie verwaarloos infrastruktuur

2015-11-12
Die Redaksie

Noordwes se departement van openbare werke en paaie kom nie sy mandaat na nie en infrastruktuur in dié provinsie is besig om in ʼn staat van verwaarlosing te verval, sê mnr. Hannes Schutte, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer in Noordwes.

Mnr. Schutte het in Noordwes se staande komitee op openbare werke en paaie gesê een van die groot redes vir die probleme is ʼn moratorium op die aanstelling van personeel.

Hy sê die departement het bloot nie genoeg kundige, tegnies gekwalifiseerde professionele personeellede om die infrastruktuur van paaie en geboue in stand te hou en te bestuur met betrekking tot ontwerp, die toeken van tenders, diensverskaffers en toesig nie.

“Die situasie grens tans aan die absurde. Konsultante wat die ontwerpe doen, maak net wat hulle wil en skryf aan die departement voor wat gedoen moet word.

“In die direktorate van geboue en paaie berei ongekwalifiseerde persone tenders voor terwyl onkundiges in die tenderafdeling besluit wat op tender mag uitgaan. Dit lei daartoe dat diensverskaffers tenders indien sonder behoorlike riglyne en toenemend bloot hul eie riglyne begin gebruik. Tenderriglyne word eenvoudig verontagsaam.

“Bykomend hiertoe verontagsaam senior bestuurslede die bevindings van die Ouditeur-Generaal (OG) oor onreëlmatighede en daar is oënskynlik geen planne om dié tekortkominge reg te stel nie. Daar is ook geen plan om vorige jare se ongeoorloofde en vrugtelose uitgawes te ondersoek of om stappe te neem teen skuldiges nie.

“Dit laat die departement in ʼn situasie waar uitgawes van vorige jare nie betaal is nie en nuwe projekte kan derhalwe nie aangepak word nie. Veral Noordwes se paaie word agterweë gelaat en afgeskeep.

“Paaie is die hoofslagaar van die land se ekonomie. Daarsonder is ekonomiese groei nie moontlik nie. Volgens ʼn sogenaamde sigbare indeks-tabel is die toestand van sommige paaie in Noordwes 0% terwyl teerpaaie se gemiddelde indekspunt onder 50% is. Dit is tekenend van die ANC se totale onbevoegdheid op enige vlak in Suid-Afrika sinvol te regeer,” sê mnr. Schutte.

 

HANNES SCHUTTE (LPW)

Sel: 079 838 6587 / 076 400 8132