Noordwes-premier kyk verby die probleme in sy provinsie

2016-03-04
Die Redaksie

Dit is goed dat die premier van Noordwes, mnr. Supra Mahumapelo, erken daar is uitdagings in die provinsie, maar dit is onaanvaarbaar dat hy nie oplossings vir die uitdagings voorstel nie, sê mnr. Hannes Schutte, VF Plus-LPW vir Noordwes.

In sy reaksie op die premier se provinsiale rede, het mnr. Schutte ook gesê die premier spog met enkele prestasies, maar hy sluit sy oë vir die werklike probleme soos diensverskaffing waaroor gemeenskappe betoog, skole en geboue wat afgebrand word en die haglike toestand van dié provinsie se paaie. Hier volg mnr. Schutte se toespraak:

 

“Geagte premier u is op rekord dat u die volgende gesê het: “the project to Rebrand, Reposition and Renew Bokone-Bophirima is intended to deal with our inheritance and timidity to deal with and resolve the following challenges over the years:”

Oor hoeveel jare moet dit gedoen word?

U het vyftien uitdagings genoem insluitende die volgende: Opgehoopte skuld van R1,400 miljoen, ongemagtigde uitgawes van R1,100 miljoen en vrugtelose en vermorste uitgawes van R10,780 miljoen. U het egter nie gesê wat gedoen gaan word om hierdie ongerymdhede te voorkom nie. Gee asseblief ʼn strategie en plan met tydsraamwerk om dit te doen.

U het verwys na prestasies in onderwys, openbare werke, gesondheid, plaaslike regering, ens., maar u het nie verwys na al die probleme in diensverskaffing waaroor gemeenskappe betoog, skole en geboue afgebrand en paaie versper nie. Ons plattelandse paaie is in ʼn haglike toestand. Openbare werke as die bewaarder van alle regeringseiendom en die implementeringsagent van die Noordwes-regering is, word nie meer as sodanig erken deur ander departemente nie, wat nou self probeer om infrastruktuur te bou. Daar behoort ʼn plan van aksie te wees indien u nog 6% groei teen 2019 wil bereik.

Die plaaslike regerings presteer swak en word onder die swakste in Suid-Afrika gereken. Ek waardeer die vennootskap met die Besigheidskool van Noordwes Universiteit om kapasiteit in plaaslike regerings te help skep, maar u het niks genoem oor die tegniese vermoë om infrastruktuur te kan beplan, te ontwerp of te bou nie. Sonder tegniese kundigheid sal alle infrastruktuur-projekte ʼn mors van geld wees.

U het gesê dat Noordwes oor die laaste 6 jaar 19.61% van Suid-Afrika se mielies geproduseer het. Verder dat ons 12.3% van die beeste, 12% bokke en 20.4% varke vir die land produseer. Ook stel u dit dat Noordwes se myne 27% van die land se arbeidsmag het en 22.7% van minerale lewer. Kyk ons egter na die begroting en regverdige aandeel daarvan dan sien ons dat op grond van ons bevolking, Noordwes slegs ongeveer 6.8% van die begroting kry. Vir die Ekonomiese gedeelte kry ons slegs 6.4% maar ons produseer ongeveer 20%. Wat gaan u hieromtrent doen?

Ek verwelkom die voorgestelde Noordwes Ekonomiese en Arbeids Raad (mini NEDLAC).

Ek verwelkom die voorneme om die salarisrekening te besnoei en dat alle administratiewe poste baie goeie motivering moet kry voor goedkeuring. Ek vra egter dat professionele en tegniese poste as ʼn saak van dringendheid voorkeur moet kry. Die huidige gebrek aan infrastruktuur-dienslewering is ʼn direkte gevolg van onbekwame amptenare wat nie verstaan hoe die tenderproses, besigheid- en konstruksie-industrie werk nie. Die gevolg is die meer as R10,000 miljoen aan vermorste uitgawes soos deur u genoem.

 

Mnr. Hannes Schutte 

Kontaknommer: 079 838 6587