Noordwes-naamsverandering mors van hulpbronne en geld

2015-04-28
Die Redaksie

“Die mosie van die ANC in die provinsiale wetgewer om die naam van die Noordwes-provinsie te verander na Moses Kotane, sal deur die Vryheidsfront Plus teengestaan word. Ons sal beslis daarteen stem en die ANC moet eerder sy tyd en energie aan kritieke diensleweringsprobleme wy,” sê mnr. Hannes Schutte, LPW in die Noordwes Wetgewer vir die Vryheidsfront Plus.

“Gemeenskappe in Noordwes kla gedurig oor swak of geen dienslewering soos blyk uit die baie betogings in die provinsie die afgelope maande en jare. Voorbeelde is Bloemhof, Madibeng, Zeerust, Dinokana, Rooigrond en plekke wat selfs nie eers in die nuus genoem word nie. In dorpe soos Coligny (ʼn klein dorpie) is daar reeds vir maande geen water nie. Die riool loop in die spruit en plaaslike dam, dit veroorsaak besoedeling. Klerksdorp en ander plaaslike stadsrade besoedel die Vaalrivier, maar bitter min tyd en geld word bestee om dit te verhoed. Die dood van mense soos in Bloemhof vanweë besoedelde water is baie belangriker as enige ander saak,” sê Schutte.

“Die provinsiale leier in Noordwes vir die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, het reeds op 11 Maart 2015 beswaar gemaak teen die voorgenome naamsverandering en het dit soos volg gestel: ‘Die naam “Noordwes” is neutraal en akkommodeer almal in die provinsie. Al die ander provinsies in Suid-Afrika het neutrale name wat nie na politici of ander persone vernoem is nie. Dit is juis om erkenning te gee aan die diversiteit van Suid-Afrika se demografie. Om die naam te verander na persone kan weersin by sommiges wek, want nie almal deel dieselfde politieke denke nie’.

“Provinsiale departemente soos Onderwys, Gesondheid en Openbare Werke word finansieel deur die Departement van Finansies bestuur omdat hulle dit self nie kan doen nie. Tog vind die ANC dit nodig om tyd, menslike hulpbronne en geld op ʼn naamsverandering te mors. In Noordwes is daar reeds ʼn munisipaliteit met die naam Moses Kotane. Wat word nou van hierdie munisipaliteit? Moet die naam nou ook verander word? Indien dit nie verander word nie, sal dit tot groot verwarring aanleiding gee. Die Vryheidsfront Plus sal die naamsverandering beslis teenstaan,” sê Hannes Schutte.

 

HANNES SCHUTTE (LPW)

Sel: 079 838 6587

 

.